Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo moet hom onttrek, eis Zuma in brief

Oudpres. Jacob Zuma het adjunkhoofregter Raymond Zondo gevra om homself te onttrek as voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Dit is omdat Zondo volgens Zuma bevooroordeeld is teenoor hom, sê Eric Mabuza, Zuma se prokureur in ’n brief wat Maandag aan Zondo gestuur is.

Mabuza sê in die brief die oudpresident se regspan sal binnekort ’n aansoek bring dat Zondo hom aan die kommissie moet onttrek omdat hy reeds ’n “partydige ingesteldheid teenoor Zuma het en daarom nie meer onpartydig kan wees nie”.

Hy waarsku Zondo dat Zuma glo Zondo se vooroordeel jeens hom spruit uit die feit dat hulle “historiese persoonlike, familie- en professionele bande het wat in die openbaar onthul moet word”. Zuma sal dit in sy aansoek doen.

Die brief volg net enkele dae nadat die Jacob Gedleyihlekisa Mhlanganyelwa Zuma-stigting ’n striemende aanval op die regter gedoen en gesê het hy is teleurgesteld in Zondo se “obsessie met pres. (sic) Jacob Zuma”.

Die stigting het gesê Zondo se aanval verlede week op die oudpresident en sy prokureurs was “heeltemal ongeregverdig en bevooroordeeld.”

Oudpres. Jacob Zuma

Die drama het begin toe Zondo – wie se kommissie ironies genoeg op 23 Januarie 2018 deur Zuma geproklameer is toe hy nog president was – verlede Maandag sy voet dwars gesit het toe Zuma se regspan aandui dat hy om verskeie redes weer nie op 9 Oktober voor die kommissie sal verskyn nie.

Zondo het op ’n mediakonferensie beslis dat Zuma van 16 tot 20 November voor die kommissie moet verskyn.

Die kommissievoorsitter het beslis dat die aansoek van die kommissie se regspan om Zuma te dagvaar op 9 Oktober aangehoor sal word.

Regskenners het toe gesê die Zondo-kommissie kan Zuma dagvaar om voor hom te verskyn én ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitreik as hy ná so ’n dagvaarding nie vir ’n gereëlde verskyning sou opdaag nie.

In die brief wat Mabuza Maandag aan Zondo gestuur het, sê hy sy kliënt neem kennis daarvan dat Zondo op Zuma fokus.

Mabuza sê dít was sedert die kommissie met sy werksaamhede begin het, duidelik die benadering.

“Die gevolg is pres. Zuma beskou die onlangse mediakonferensie as die toppunt van ’n reeks gebeurtenisse waarin hy deur die kommissie uitgesonder en geteiken is.”

Hy sê Zondo het Zuma verlede jaar op twee ander mediakonferensies ook nodig geag om die oudpresident deur die media aan te spreek.

Mabuza sê verlede week se mediakonferensie het plaasgevind sonder dat die oudpresident se regspan enigsins aangedui het hy sal nie instem tot Zondo se instruksies om voor hom te verskyn nie.

“Dit was ’n onnodige en voortydige openbare skrobbering wat ons insiens buite die terrein van regsprosesse en juridiese hoflikheid val.”

Hy sê Zuma se regspan sien dit nie as gepas om te reageer op Zondo se uitlatings teenoor hulle nie.

Die Zuma-stigting het Zondo verlede week daarvan beskuldig dat hy op die mediakonferensie nagelaat het om te sê die instruksies oor die datums van 9 Oktober en 16 tot 20 November is eers enkele dae vroeër aan Zuma se prokureurs gekommunikeer.

Die stigting het Zondo ook daarvan beskuldig dat hy moedswillig was toe hy die mediakonferensie belê het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo

In die proklamasie van die kommissie het Zuma gesê die kommissie word aangestel “om aangeleenthede van openbare en nasionale belang met betrekking tot bewerings van staatskaping, korrupsie en bedrog, te ondersoek”.

In die proklamasie was Zuma se opdrag onder meer die kommissie “moet in besonder die geloofwaardigheid van bewerings ondersoek dat die voormalige adjunkminister van finansies, mnr. Mcebisi Jonas, en me. Vytjie Mentor kabinetsposte deur die Gupta-familie aangebied was.”

Die kommissie moet ook ondersoek of die president (Zuma) enige rol in die beweerde aanbod gespeel het.

Lees Zuma se prokureursbrief hier.


Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.