Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo moet vir Cyril dagvaar, sê AfriForum

AfriForum gaan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Maandag versoek om pres. Cyril Ramaphosa te dagvaar om oor die vyf jaar tot 2018 te kom getuig toe hy ampshalwe voorsitter van die ANC se kaderontplooiingskomitee was.

Pres. Ramaphosa ná ’n NUK-vergadering in 2020. Foto: Sarel van der Walt

In hul aansoek sê Ernst Roets, beleidshoof by AfriForum, dit is algemene kennis dat “ernstige aantygings” voor die Zondo-kommissie gemaak is “wat spesifiek verband hou met sekere individue wat in sleutelposte was gedurende pres. Ramaphosa se ampstermyn by die kaderontplooiingskomitee”.

Roets voer aan Ramaphosa het as voorsitter van dié komitee ’n belangrike rol gespeel in ANC-besluite oor wie staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Eskom, Transnet en die SAUK sou lei.

Die getuies wat die ANC volgens AfriForum reeds voor die Zondo-kommissie by staatskaping betrek het, en waarop AfriForum se ondervraging sal fokus, sluit in:

* Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom en Transnet, wat verlede maand getuig het Rama­phosa was ’n nie-uitvoerende direksielid en voorsitter van die maatskappy Optimum Coal Holdings toe die maatskappy duur steenkool aan Eskom gelewer het;

* Dudu Myeni, voormalige SAL-voorsitter, wat in November 2020 voor die kommissie haar swygreg uitgeoefen het ondanks bewyse dat sy kontantdeposito’s van tot R100 000 op ’n keer in die Jacob Zuma-stigting se bankrekening inbetaal het;

* Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), wat in 2020 voor die kommissie daarvan beskuldig is dat hy betrokke was by onreëlmatige tenderprosedures by Prasa;

* Jeff Radebe, destydse minister in die presidensie, wat voor die kommissie daarvan beskuldig is dat hy Montana sedert die 1990’s in verskeie topregeringsposte aangestel het;

* Lynne Brown, ’n gewese minister van openbare ondernemings, wat daarvan beskuldig is dat sy opdragte van Tony Gupta aanvaar het om by Eskom in te meng; en

* Nhlanhla Nene, oudminister van finansies, wat in 2019 oor talle vergaderings met die voortvlugtige Gupta-familie getuig het.

Ramaphosa moet kom verduidelik, sê Roets. “Kaderontplooiing het ’n diepgaande impak in Suid-Afrika,” voer hy aan.

“Verkiesings bepaal nie wie politieke ampte in provinsies beklee nie. Hierdie mag is eerder by die ANC.”

Kaderontplooiing is reeds in 1997 as ANC-beleid aanvaar toe Nelson Mandela nog president was.

In 18 vrae aan Ramaphosa wil AfriForum sy standpunt toets oor onder meer die grondwetlikheid van die kaderontplooiingskomitee, die mag van die ANC om LP’s te beïnvloed in hoe hulle stem rakende wetgewende aspekte, en oor die kriteria wat die komitee gebruik het voordat iemand vir ’n toppos aanbeveel is.

“Dit (lojaliteit aan die ANC) dra oënskynlik selfs meer gewig as meriete en die vermoë om die werk te doen,” sê Roets aan Rapport.

“Waaroor daar egter geheimsinnigheid heers, is presies wat hierdie komitee se doen en late is, asook watter individue op grond van hul lojaliteit aan die party in sleutelposisies aangestel het.”

Ramaphosa het op ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee verlede maand aangedui hy sal die ANC se voorlegging aan die Zondo-kommissie lei. Nóg Rama­phosa nóg die Zondo-kommissie kon egter aandui wanneer die verskyning sal plaasvind.

City Press het verlede week berig adj.pres. David Mabuza, voorsitter van die kaderontplooiingskomitee, het onlangs die sweep onder kabinetslede geklap omdat hy uitgesluit word wanneer kaders aangestel word.

Mabuza én Ramaphosa het al gesê hulle wil hê kaders wat aangestel word, moet bekwaam wees.

Volgens dr. Leon Schreiber, DA-LP, het die ANC tot 24 Maart om gehoor te gee aan die aansoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.