Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Zondo moet Zuma wéér dagvaar om voor hom te verskyn’

Die Zondo-kommissie moet sy mag gebruik en oudpres. Jacob Zuma dagvaar om weer voor die kommissie oor sy beweerde aandeel in staatskaping te verskyn, omdat hy al vir jare lank aanspreeklikheid suksesvol ontduik, sê adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie.

Dit volg nadat Zuma die kommissie verlede week in kennis gestel het dat hy weens gesondheidsredes nie Maandag sy getuienis voor die kommissie kon hervat nie.

Adv. Glynnis BreytenbachFoto: Leanne Stander

IOL het die afgelope Vrydag ook berig dat Zuma verlede week in ’n hospitaal opgeneem is. Dit is nie bekend waarvoor nie.

News24 het egter Saterdag berig hoe Edward Zuma, een van Zuma se seuns, gesê het dat dokters sy afgetrede pa met sy ontslag uit die hospitaal aangesê het om te rus, omdat “hy homself oorwerk”.

Breytenbach sê die DA het kennis geneem van Zuma wat weens gesondheidsredes nie Maandag voor die kommissie kon verskyn nie. “Hoewel niemand die reg het om enige persoon se gesondheidstoestand ongeldig te maak nie, is die werklikheid egter dat Zuma al vir jare aanspreeklikheid suksesvol ontduik.”

Sy het daarom namens die DA ’n beroep op adjunkhoofregter Raymond Zondo, die kommissie se voorsitter, gedoen dat die kommissie sy mag sal gebruik om Zuma te dwing om voor hom te verskyn. Dit sodat “aanspreeklikheid en geregtigheid” nie vertraag word nie. Dit sal glo verseker dat Zuma belangrike vrae oor sy rol in staatskaping voor die kommissie kan beantwoord.

Oudpres. Jacob ZumaFoto: City Press

“Meer as tien jaar nadat die sogenaamde spioenasiebande-sage veroorsaak het dat korrupsieklagtes teen Zuma teruggetrek is, en ten spyte van ’n hofbevel wat die klagte heringestel het, is die nasionale vervolgingsgesag verhoed om te begin om sy saak te stel weens ’n Stalingrad-strategie deur Zuma se prokureurs. Dit sluit onder meer appèlle, aansoeke dat die vervolging gestaak word en meer appèlle in.

“Hierdie was nietemin die saak waarin daar die meeste beweging was. Zuma het dieselfde Stalingrad-strategie gebruik wat hy nou in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gebruik om dringende vrae in alle ander aangeleenthede wat teen hom ondersoek, of ondersoek moet word, te ontduik.”

Volgens Breytenbach is die Zondo-kommissie daar om antwoorde aan Suid-Afrikaners te verskaf.

“Hierdie kommissie se bevindinge kan moontlik daartoe lei dat tientalle vervolgings ingestel word. Sy werk is te belangrik om gyselaar gehou te word deur ’n afgedwaalde voormalige president wat in alle opsigte jare gelede al skuldig bevind en tronk toe gestuur moes word vir erge beweerde finansiële misdade,” het Breytenbach in ’n verklaring gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.