Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Só het al die miljoene gevloei

Nóg ’n manier hoe geldwassery van miljoene rande met staatsgeld gedoen kon word, het Maandag voor die Zondo-kommissie na staatskaping aan die lig gekom toe ’n voormalige sakevrou van Springs ondervra is.

Kasandra Viljoen, wat deur adv. Kate Hofmeyr van die kommissie ondervra is, was die eienaar van Asset Movement Financial Services (AMFS), ’n kontant-vervoer-onderneming van Springs wat maandeliks tot R500 miljoen hanteer het.

Kasandra Viljoen, voorheen eienaar van Asset Movement Financial Services (AMFS), het Maandag getuig.Foto: Skermgreep

AMFS het kliënte gehad wat ’n bepaalde bedrag geld na haar onderneming se bankrekening sou oorplaas. Dan het sy teen ’n fooi van 0,3% die bedrag oorgeskuif na die bankrekening van SBV, ’n diens wat deur vier banke gevorm is om kontant in groot maat te hanteer.

Viljoen sou haar drywers stuur om die kontant te gaan afhaal en dit dan by haar kliënte aflewer.

Hofmeyr het dit aan Viljoen gestel dat R9 miljoen in drie betalings na AMFS se bankrekening oorgeplaas is. Daarna het sy haar fooi van 0,3% afgetrek, die oorblywende geld na SBV oorgeskuif en dan die kontant gaan haal en by ’n kliënt laat aflewer. Dít alles het sy gedoen sonder om navraag te doen oor waar die geld regtig vandaan kom.

Dit beteken haar onderneming is moontlik gebruik om die R9 miljoen, wat van Koroneka Trading in AMFS se bankrekening inbetaal is, in kontant om te sit. Sy het dan die geld laat aflewer by haar kliënt George Markides, ’n Johannesburgse sakeman. Dit is gedoen terwyl dié geld nie van sy of sy onderneming se bankrekening gekom het nie.

Koroneka Trading is verlede week in getuienis voor die Zondo-kommissie gekoppel aan Brian van Wyk, voormalige hoof van SA Express.

Van Wyk het in ’n gesprek wat in die geheim opgeneem is deur Babadi Tlatsane, eienaar van Koroneka Trading, gesê hy betaal omkoopgeld van R10 miljoen elk aan politici soos Lynne Brown en Dipua Peters. Tlatsane het getuig Van Wyk het haar onderneming en bankrekening gekaap om geld in en uit te laat vloei.

Hofmeyr het uitgewys die spoor van die uitbetaling van geld soos wat daar Saterdag deur Tlatsana getuig is, word nou verder geneem met Viljoen se getuienis.

Volgens ’n tabel van R51 miljoen wat in Tlatsana se getuienis genoem is, is R9 miljoen betaal in die bankrekening van Viljoen se onderneming AMFS.

Van daar het sy dit uitbetaal aan Markides.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê dit beteken iemand by SA Express sou die geld betaal aan Koroneka en daarna volg dit ’n roete om uiteindelik te eindig by Markides.

Hofmeyr sê wanneer ’n mens inbetalings in kontant oorsit, beteken dit die pad wat die geld daarna loop, kan nié meer gevolg word nie. Daarom moet mense wat die soort transaksies doen wat Viljoen gedoen het, baie versigtig wees.

Hofmeyr het gesê Viljoen weet net dat die kontant na ’n sakeadres van Markides geneem is. Al wat Viljoen as bewys daarvoor het, is die afleweringstrokies.

Aan die einde van Viljoen se getuienis het Hofmeyr gesê van die oorwegings wat die kommissie moet maak, is die aard van AMFS se diens en of dit dalk eerder as ’n bank opgetree het en daardeur die Bankwet oortree het.

Een van die besluite wat die kommissie kan neem, is om dié soort ondernemings van nader te ondersoek – hier was ’n onderneming (AMFS) wat tot R500 miljoen kontant per maand hanteer het.

Hofmeyr het gesê as AMFS as ’n bank opgetree het, moes dit as ’n bank geregistreer gewees het. Viljoen het geantwoord “tot drie sekondes gelede” het sy nie geweet daarvan nie.

Hofmeyr het gesê al het Viljoen haar besigheid beskryf as ’n onderneming wat kontant vervoer, kon dit dalk iets anders wees. Om kontant te vervoer is om byvoorbeeld die geld aan die einde van die dag by ’n plek te gaan haal en na die bank te vervoer.

Ondernemings wat kontant vervoer, doen letterlik net dit – vervoer die geld van ’n besigheid af na die bank of andersom.

Viljoen se getuienis is Maandag afgehandel.

Die sitting is uitgestel tot Dinsdag om 10:00.

Meer oor:  Staatskaping  |  Geldwassery  |  Staatsgeld  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.