Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: NVG-aanklaer ‘weet nie hoe dokumente uitlek’

Sy weet nie wie vertroulike dokumente van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoek na tender-ongerymdhede rakende die departement van korrektiewe dienste en Bosasa uitgelek het nie, sê Marijke de Kock, ’n senior aanklaer van die NVG.

Sy het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in Johannesburg getuig.

De Kock het die ondersoek na Bososa van 2010 tot 2016 gelei voordat sy vervang is. Die dienstemaatskappy staan deesdae bekend as African Global Beherend.

Ek was baie bekommerd oor die veiligheid van ons dokumente omdat ons in 2013 gehoor het besonderhede oor die SOE-ondersoek is aan Bosasa gegee.

Die NVG het Bosasa afsonderlik van die polisie se spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek. Die NVG het wel toegang tot die SOE-verslag gehad.

“Ek was baie bekommerd oor die veiligheid van ons dokumente omdat ons in 2013 gehoor het besonderhede oor die SOE-ondersoek is aan Bosasa gegee. Ons het gehoor dat Bosasa toe dokumente vernietig het,” het De Kock getuig.

Hoewel die NVG-dokumente voorlopig was, kon dit beskuldigdes bevoordeel as hulle dit in die hande sou kry, volgens De Kock. Die dokumente het onder meer ’n voorlopige lys met die name van 27 beskuldigdes bevat.

“Ek het moeite gedoen om te sorg dat die dokumente veilig bewaar word,” sê sy.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa wat al getuig het, het reeds afskrifte van dié NVG-dokumente aan die kommissie voorgelê. Dit is onbekend hoe hy die dokumente in die hande gekry het.

De Kock het voor die kommissie getuig dat die NVG-bundel bykans presies dieselfde as die Agrizzi-bundel is. Die enigste verskil is dat die NVG-bundel twee bykomende bladsye, waarvan een skoon was, bevat het.

De Kock sê sy is in 2013 deur die ondersoekbeampte in die saak bewus gemaak dat die NVG se dokumente uitgelek het.

“Ek en drie ander mense wat by die ondersoek betrokke was, het ’n vergadering gehad, maar niemand kon sê hoe die dokumente uitgelek het nie,” sê De Kock.

Ek en drie ander mense wat by die ondersoek betrokke was, het ’n vergadering gehad, maar niemand kon sê hoe die dokumente uitgelek het nie.

Patrick Mlambo, ’n ondersoeker van die Zondo-kommissie, en Richard le Roux, ’n voormalige werknemer van Sondolo IT, ’n filiaal van Bosasa, het ook Dinsdag voor die kommissie getuig.

Le Roux het Mlambo vroeër vanjaar vergesel na eiendomme van Dudu Myeni, die voormalige SAL-voorsitter, en Gwede Mantashe, die minister van minerale bronne, asook eiendomme wat met Linda Mti, die voormalige hoof van korrektiewe dienste, verbind kan word.

Le Roux was deel van die span wat installeringswerk vir veiligheidsdoeleindes by dié wonings gedoen het. Bosasa het na bewering daarvoor betaal.

Benewens die huis van Myeni op Richardsbaai in KwaZulu-Natal, kon Mlambo toegang tot die eiendom van Mantashe op Elliot in die Oos-Kaap en van Mti se eiendomme in Greenbushes en op Colchester in die Oos-Kaap verkry.

Le Roux het glo vooraf aan Mlambo verduidelik waar hy sekere soorte toerusting wat geïnstalleer is, sou vind.

Volgens Mlambo het hy die meeste van die toerusting op die plekke gekry soos deur Le Roux aan hom verduidelik.

  • Regter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het aangekondig dat die kommissie nie Woensdag en Donderdag sal sit nie. Daar is wel Vrydag weer ’n sitting.
Meer oor:  Bosasa  |  Nvg  |  Zondo-Kommissie Van Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.