Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Oud-NDOV sê hy was slagoffer van swartsmeerdery

Mxolisi Nxasana, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), voer aan hy was die slagoffer van ’n swartsmeerdery in die tyd toe oudpres. Jacob Zuma hom nie meer in dié belangrike pos wou hê nie.

Nxasana het Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aangevoer adv. Nomgcobo Jiba, wie hy as NDOV opgevolg het, en haar meeloper, adv. Lawrence Mrwebi, het hul mes vir hom ingehad en dat Jiba probeer het om vuil wasgoed uit sy verlede op te diep.

Mxolisi Nxasana, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging. Foto: Skermgreep

Jiba het in Junie vanjaar, toe Nxasana oor haar wou getuig, met ’n hofaansoek geslaag dat hy vir eers moes wag met daardie deel van sy getuienis omdat sy glo nie genoeg tyd gehad het om haar daarvoor voor te berei nie.

Maandag was die sluise oop en Nxasana het getuig dat hy vermoed Zuma wou destyds van hom as NDOV ontslae raak nadat daar allerlei onwaarhede aan hom vertel is.

Een van dié vals gerugte was dat Nxasana geheime ontmoetings met Bulelani Ngcuka gehad het.

Ngcuka het in 2004 uit sy pos as NDOV bedank. Volgens Nxasana het Zuma aan hom gesê hy wil nie eens Ngcuka se naam voor hom genoem hê nie.

Hy het getuig dat Jiba en Mrwebi in hul pogings om hom as NDOV afgedank te kry, aangevoer het dat hy weer klagte teen Zuma wil instel.

Nxasana sê oral waar hy gegaan het, het mense gesê hulle hoor Zuma wil hom uit hê omdat hy korrupsieklagte teen hom wil herinstel.

Hy het egter nie eens die dossier onder oë gehad nie want dit was steeds by Jiba.

Nxasana het getuig hy het alles in sy vermoë gedoen om vergaderings met Zuma te reël, maar daar is aan hom gesê Zuma is bang hy sal ’n afluisterapparaat aan sy lyf versteek om hul gesprek op te neem.

“Ek het grappenderwys gesê dat ek selfs bereid is om kaal te wees wanneer ons vergader. Ek moet met hom praat,” het Nxasana getuig.

Hy sê dit het duidelik geword dat Zuma mislei is met inligting wat aan hom gegee is. Hy het ook die gevoel gekry dat Zuma onder druk was om hom af te dank.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou weet wat was eerste – is Nxasana ingelig dat Zuma teen hom wil optree en het hy daarna besluit dat Jiba en Mrwebi sommer dan ook ondersoek moet word, of was Zuma eerstens bewus van die klagtes oor Jiba en Mrwebi en dat hy daarna besluit het om Nxasana te ondersoek.

Adv. Paul Pretorius SC, wat Nxasana se getuienis gelei het, het gesê daar is ’n tydlyn van gebeure wat dit duidelik behoort te maak.

Zuma het op 4 Julie 2014 Nxasana in kennis gestel dat hy ’n ondersoek na hom gaan doen. Nxasana het egter voor dit ’n regsmening gevra oor watter stappe hy kan doen teen Jiba en Mrweni.

Pretorius het uit ’n memorandum van 26 Junie 2014 voorgelees oor dié aspek.

Zondo het gesê dankie, dit wys nou dat Nxasana tugstappe teen Jiba en Mrwebi oorweeg het voordat Zuma stappe teen hom oorweeg het.

Nkazana het gesê sy getuienis in ’n neutedop is dat toe hy na Zuma gegaan het om stappe te doen teen ander individue (Jiba en Mrwebi) het die teenoorgestelde gebeur en daar is tugstappe teen hom gedoen.

Nxasana het nie sy getuienis afgehandel nie en sal later weer geroep word om dit te voltooi.

Dinsdag word verdere getuienis oor die Vrede-melkplaas aangehoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.