Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Polisiehoofde wou ondersoek stop

Riah Phiyega, voormalige nasionale polisiehoof, was een van ’n rits hooggeplaastes in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat ’n ondersoek na korrupsie in die polisie se misdaadintelligensie-eenheid met alle mag probeer stopsit het.

Dít was Donderdag die getuienis van kol. Kobus Roelofse, senior ondersoeker van die Valke wat die besteding van geheime fondse van die misdaadintelligensie-eenheid asook die optrede van lt.genl. Richard Mdluli, voormalige hoof van die eenheid, ondersoek het.

Kol. Kobus Roelofse getuig voor die Zondo-kommissieFoto: Skermgreep

Roelofse het voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig hoe hy oor die jare heen gesukkel het om dokumente gedeklassifiseer te kry sodat dit in die ondersoek en daaropvolgende strafsaak gebruik kon word.

Hy het getuig hy het eenvoudig nie antwoorde van Phiyega, asook die polisiekommissarisse ná haar, gekry wanneer hy gevra het dat sekere dokumente gedeklassifiseer word vir die ondersoek nie. Dié mag daarvoor lê by die nasionale polisiekommissaris.

Roelofse het aangevoer dat die klassifikasie van dokumente gebruik is om inligting te weerhou.

Hy het getuig hoe lt.genl. Anwa Dramat, afgetrede hoof van die Valke, aan hom genoem het dat hy Phiyega vergeefs om hulp gevra het. Roelofse het aangevoer hy het vermoed Dramat is gedreig en ondermyn deur Phiyega.

Roelofse sê hy het Dramat skriftelik en mondeling gevra om te help om dokumente te deklassifiseer. Dramat het aan hom genoem in sy vergadering met Phiyega was dit duidelik dat sy nie daarmee sou help nie.

Hy het getuig Mdluli se eerste skorsing is op 31 Maart 2012 opgehef. In die tyd toe Mdluli terug was in sy pos, het hy ’n veldtog begin teen die misdaadintelligensie-beamptes wat hy daarvan verdink het dat hulle Roelofse in sy ondersoek gehelp het.

Daar is binne enkele dae 20 van die misdaadintelligensie-beamptes verplaas. Mdluli het ook op 4 April 2012 ’n skriftelike opdrag uitgereik dat geen van die misdaadintelligensie-beamptes met die nuusmedia mag praat of enige inligting mag verskaf aan ander instansies nie.

Roelofse sê dit het sy ondersoek benadeel omdat die beamptes nie meer met hom wou saamwerk en inligting wou verskaf nie.

Hy het verduidelik ondersoekers is onder meer verplaas as oppassers van stoorkamers en al hul verantwoordelikhede is weggeneem.

Roelofse het ook getuig oor e-pos wat hy op 6 Julie 2015 aan sy waarnemende bevelvoerder van daardie tyd, brig. Kubandran Moodley, gestuur het. Hy verwys daarna dat die saak teen Mdluli dié dag van die rol geskrap is.

Mdluli se regspan het in die hof aangevoer dat die saak nie kan voortgaan nie, tensy hulle van die nodige dokumente voorsien is wat in die ondersoek gebruik is. Die dokumente is egter nooit gedeklassifiseer nie en kon daarom nie aan die verdediging oorhandig word nie.

Roelofse noem in die e-pos al die pogings wat hy aangewend het om die nodige dokumente te deklassifiseer. Ook dat hy selfs daarvan beskuldig is dat hy onwettig opgetree het deur in besit te wees van die dokumente sonder dat hy die nodige klaring daarvoor gehad het.

Hy het ’n geldige sekuriteitsklaring gehad, ongeag lt.genl Berning Ntlemeza, in daardie stadium hoof van die Valke, se aantyging dat hy nie die klaring het nie.

Hierna het Ntlemeza op 15 Julie 2015 vir Roelofse ingeroep en gesê hy word verbied om met die ondersoek voort te gaan. Ntlemeza het geen rede gegee nie.

Roelofse het getuig dat Moodley ook geteiken is en dat hy kort daarna verplaas is.

Ntlemeza het hulle ingelig hy sal later die dag alleen na ’n vergadering met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gaan oor die saak. Roelofse en Moodley is nie gevra om saam te gaan nie.

Die vergadering wat die NVG aangevra het, was om te praat oor die deklassifikasie van dokumente.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, wou weet of die ondersoek dus nie sou kon voortgaan sonder die deklassifikasie van die dokumente nie.

Roelofse het geantwoord dit is korrek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.