Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: R600 000 ‘was vir drank’, sê Zulu

Hy is vriende met die sakeman wat die Vrystaatse asbesdakke-kontrak vir R255 miljoen gekry het, maar ’n betaling van R600 000 wat hy ontvang het, was vir drank.

Só het Thabane Zulu, voormalige direkteur-generaal van die nasionale departement van menslike nedersettings, voor die Zondo-kommissie getuig.

Zulu het erken hy is vriende met Edwin Sodi, die sakeman wat die maatskappy Blackhead Consulting begin het. Hy erken ook Sodi het R600 000 betaal aan ’n motorhandelaar in Ballito vir die deposito van ’n Range Rover wat aan hom (Zulu) behoort.

Maar die betaling was ten opsigte van ’n rekening vir drank wat Sodi oor ’n tydperk van die TZ Lounge, Zulu se private onderneming, gekoop het – moontlik vir sy private partytjies, Zulu kan nie sê waarvoor nie.

Thabane Zulu, voormalige direkteur-generaal van die nasionale departement van menslike nedersettings, getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Blackhead Consulting en nog ’n maatskappy, Diamond Hill Trading 71, het in 2014 die kontrak van R255 miljoen gekry om asbesdakke in ’n woonbuurt in Mangaung te ondersoek met die oog op die moontlike vervanging daarvan.

In vorige getuienis voor die kommissie is aangevoer dat die werk wat gedoen is, skaars ’n tiende van die betaling regverdig.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier vir die kommissie, het dit aan Zulu gestel die rede hoekom die kommissie hom ondersoek, is omdat Zulu as amptenaar ’n rol gespeel in die asbesdakke-kontrak. Sy voorletters verskyn ook op ’n lys van beweerde betalings, wat Mxolisi Dukwana, voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling in die Vrystaat, aan die kommissie verskaf het.

Volgens die lys het Zulu ’n betaling vanaf Sodi ontvang en dit is deel van die kommissie se ondersoek.

Zulu het aangevoer hy word onregverdig in die openbaar met die ondervraging betrek. Sy bankstate is in die openbare domein en indien die kommissie se ondersoekspan hom oor die betaling gevra het, sou hy sy verduideliking kon gegee het.

Hierop het adjunkhoofregter Raymond Zondo, hoof van die kommissie, gesê die ondersoekers het Zulu gevra oor die betaling van R600 000 waarby sy voorletters TZ aangedui is. Hy het voor die sitting Donderdag die geleentheid gehad om dit te verduidelik.

Hierop het Zulu verduidelik die kommunikasielyne tussen hom, sy regsverteenwoordigers en die ondersoekers van die kommissie was nie reg nie. Hy het nie die geleentheid gehad om self die betaling aan die ondersoekers te verduidelik nie.

Pretorius het dit aan Zulu gestel dit is interessant dat die transaksie met die motorhandelaar SMD Trading eers deur die ondersoekers blootgelê is voordat Zulu dit gehanteer het.

Hierop het Zulu geantwoord dit is in die openbare domein, hy sou dit nie kon wegsteek nie. Pretorius het weer hierop gesê die inligting is nie in die openbare domein nie.

Oor sy vriendskap met Sodi het Zulu getuig hulle het sake gedoen en toe vriende geraak.

Pretorius het dit aan Zulu gestel hy het in ’n beëdigde verklaring wat Sodi by die kommissie ingedien het, gesê dat hy geen betalings in enige amptenaar se persoonlike bankrekening gedoen het nie.

Daar kan aangevoer word die manier waarop die betaling gedoen is, is sodanig dat Sodi wel kon sê hy het nie betalings in amptenare se persoonlike bankrekenings gedoen nie, volgens Pretorius.

Zulu het volgehou hy het nie enige geld gekry soos wat in die lys van name en betalings wat deur Dukwana by die kommissie ingehandig is, geskryf staan nie. Daar word in die lys ook ’n betaling van R10 miljoen genoem. Hy het nie so ’n betaling ontvang nie, het Zulu getuig.

Meer oor:  Edwin Sodi  |  Blackhead Consulting  |  Thabane Zulu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.