Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo-regspan sal aansoek bring dat Zuma móét getuig

Die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping se hoofprioriteit met vanjaar se sittings, wat Dinsdag begin, is om oudpres. Jacob Zuma te dwing om bepaalde vrae oor staatskaping te beantwoord.

Lt.kol. Christine Anderson, voorheen verbonde aan die Suid-Afrikaanse Lugmag op die Waterkloof-lugmagbasis, gaan Dinsdag voor die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping getuig. Foto: Deaan Vivier

’n Aansoek voor adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, word Dinsdag deur die regspan van die kommissie gebring om ’n dagvaarding uit te reik dat Zuma tussen 27 Januarie en 31 Januarie móét getuig.

Eerw. Mbuyiselo Stemela, woordvoerder van die kommissie, het by navraag gesê dit is onseker of Zuma se regspan die aansoek gaan teenstaan.

Die kommissie se regspan wil hê dat Zuma nou getuig nadat hy in November 2019 aangedui het dat hy te siek is.

Behalwe dié aansoek gaan die getuienis van lt.kol. Christine Anderson, voorheen verbonde aan die Suid-Afrikaanse Lugmag op die Waterkloof-lugmagbasis, Dinsdag aangehoor word.

Anderson is een van die sleutelgetuies om nog meer lig te werp op die omstandighede van die vliegtuig wat met die Gupta-trougaste op die lugmagbasis geland het. Anderson het sedert die Waterkloof-skandaal afgetree nadat alle klagte oor die landing teen haar teruggetrek is.

Bruce Koloane
Bruce Koloane

Die kommissie se ondersoek na die landing het reeds tot gevolg gehad dat Bruce Koloane, oudhoof van staatsprotokol en oudambassadeur in Nederland, dié pos kwyt is.

Boonop het Maite Nkoana-Mashabane, minister in die presidensie belas met vroue, en ten tyde van die voorval die minister van samewerking en internasionale betrekkinge, voor Zondo getuig dat Zuma geweet het dat Koloane sy (Zuma se) naam gebruik om toestemming te kry dat die Guptas se vliegtuig mag land. Hy het hom egter steeds as ambassadeur in Nederland aangestel.

Koloane was hoof van staatsprotokol toe hy Zuma se naam gebruik het. Hy het met sy aanvanklike verskyning voor die Zondo-kommissie eers probleme gehad met sy geheue.

Die kommissie het geklassifiseerde opnames van telefoonoproepe aan hom gegee en die dag daarna het hy getuig dat sy geheue oornag verbeter het. Hy kon toe onthou dat hy wél Zuma se naam gebruik het om amptenare sover te kry om die administrasie van die Gupta-vlug af te handel.

Hy het ook die naam van Ben Martins, voormalige minister van vervoer, gebruik en gesê Martins plaas druk op hom om die landing op Waterkloof goedgekeur te kry.

Martins het egter geen druk op hom geplaas nie.

Anderson se getuienis Dinsdag is een van die laaste stukke van die legkaart in die ondersoek na die Waterkloof-sage.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.