Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo sê hy en Zuma was nooit vriende
Zondo
Adjunkhoofregter Raymond Zondo

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie, het ontken dat hy en oudpres. Jacob Zuma ooit vriende was.

Dit kom nadat die regspan van Zuma, wat veronderstel was om vandeesweek getuienis te lewer, Maandag ’n aansoek gebring het dat Zondo homself as voorsitter van die kommissie moet onttrek.

Zuma het in lewende lywe by die sitting in die Ou Raadsaal in Braamfontein, Johannesburg, opgedaag.

Hy het vroeër in sy beëdigde verklaring gesê Zondo moet homself weens belangebotsings verskoon omdat hulle twee ’n “noue persoonlike verhouding” gehad het.

Zondo het egter in sy eie verklaring, wat hy voorgelees het, ontken dat hy en Zuma ooit vriende was en gesê dat hul interaksies hoofsaaklik tot hoflike geselsies by staatsgesellighede beperk was.

“Zuma is nooit na my wonings genooi nie, en ek en Zuma het nooit gekuier nie. Ek het Zuma nooit na familiegesellighede soos verjaardae genooi nie.”

jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma luister Maandag na die verrigtinge by die Zondo-kommissie in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Hulle het wel twee keer tussen 2005 en 2007 op Zuma se versoek alleen vergader. Een keer was in ’n hotel in Durban en die ander keer in Zuma se huis in Johannesburg toe Zondo ’n kwessie van nasionale belang wou bespreek.

In paragraaf 29 van Zuma se verklaring beweer hy dat ’n gesprek tussen hom en Zondo in 1997 plaasgevind het toe Zondo ’n regter geword het.

Zuma beweer dat Zondo besluit het om nie meer vriende te wees nie omdat die persepsie kon ontstaan dat Zuma as president toutjies getrek het om hom as regter aangestel te kry.

Zondo het egter daarop gewys dat Zuma destyds bloot die LUR vir ekonomiese ontwikkeling in KwaZulu-Natal was en dus nie seggenskap gehad het oor wie in die regbank aangestel word nie.

Voorts het Zondo in sy hoedanigheid as regter van die konstitusionele hof verskeie sake aangehoor waarby Zuma betrek word, en Zuma het nooit voorheen gekla nie.

Zuma is nooit na my wonings genooi nie, en ek en Zuma het nooit gekuier nie. Ek het Zuma nooit na familiegesellighede soos verjaardae genooi nie.

Volgens Muzi Sikhakhane, Zuma se regsverteenwoordiger, sal hy eers met Zuma konsulteer oor Zondo se verklaring.

Volgens hom het Zondo verskeie kere op sittings “onsensitiewe” kommentaar gelewer of stellings gemaak wat Zuma laat vrees dat hy deur die kommissie geteiken word.

Volgens hom moet dit in die konteks beskou word van die heersende narratief dat Zuma “die land opgeneuk het” en vir die staatskaping verantwoordelik was.

Sikhakhane beweer boonop dat die volgorde waarin die getuies voor die kommissie getuig het, dié narratief versterk terwyl hierdie getuies ’n sekere politieke agenda dryf.

“As Zuma nie gemaklik voel en die kommissie vertrou nie, sal hy dalk nie getuig nie en dit kan uiteindelik die verslag van die kommissie belemmer.”

Voorts meen Zuma glo dat sy getuienis voor die kommissie verlede jaar nie met erns bejeën is nie.

Hy het verlede jaar onder meer getuig dat hy die slagoffer is van buitelandse en plaaslike intelligensie-agentskappe wat van hom ontslae wou raak.

“Dis nie onmoontlik dat ons almal hier pionne in ’n groter politieke spel is nie,” sê Sikhakhane.

Hy wys verder daarop dat Zuma onder die indruk verkeer dat die kommissie hom nie glo wanneer hy nie vir getuienis kan opdaag wanneer hy siek is nie. Hulle volg allermins ’n Stalingrad-strategie om die getuienis van Zuma so lank as moontlik uit te rek, sê Sikhakhane.

Zondo het egter gesê hy kan nie onthou dat hy ooit die indruk geskep het dat hy Zuma nie glo nie.

Wanneer hy vrae vra of stellings maak, sê Zondo, is dit om klarigheid te kry.

Hy het dit ook aan Sikhakhane gestel dat wanneer hy met getuies voor die kommissie saamstem oor sekere kwessies, hy van plan kan verander wanneer hy nuwe getuienis aanhoor.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Raymond Zondo  |  Johannesburg  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.