Adjunkhoofregter Raymond Zondo sê hy het nog 'n dag nodig om te besin oor oudpres. Jacob Zuma se onttrekkingsaansoek dat hy hom as voorsitter van die kommissie wat staatskaping ondersoek, moet onttrek.
Adv. Muzi Sikhakhane, Zuma se prokureur, het Maandag op ’n sitting toe die aansoek aangehoor is, onder meer aangevoer dat Zondo se uitsprake vrese by Zuma aanwakker dat hy in die Zondo-kommissie se visier is.
Zuma voel glo dat die kommissie deel is van ’n politieke komplot om hom te “kelder”.
Adv. Paul Pretorius, ondervraer vir die kommissie, het op sy beurt gesê Zuma-hulle se aansoek voldoen nie aan die wetlike vereistes vir ’n onttrekkingsaansoek om te slaag nie. Volgens hom is die aansoek op Zuma se subjektiewe opinie en vrese gegrond.
Zondo het op die sitting gesê hy sou albei kante se argumente Maandagaand bestudeer en probeer om vanoggend om 10:00 op die sitting ’n beslissing aan te kondig.
Zuma is veronderstel om vandeesweek getuienis voor die kommissie te lewer nadat hy gedagvaar is.
Zondo gee Zuma toestemming om die begrafnis by te woon solank hy Donderdag teenwoordig is sou dit vereis word. Die kommissie verdaag.
Adv. Muzi Sikhakhane, Zuma se regsverteenwoordiger, wil iets sê. Hy het gister gesê dat hy met Zuma sal konsulteer oor Zondo se verklaring oor die aard van sy en Zuma se verhouding. Hy sal probeer om voor môre terugvoer te gee. Voorts het Zuma 'n begrafnis wat hy môre moet bywoon en hy sal dus nie die sitting kan bywoon nie.
Zondo open die sitting. Die verrigtinge begin. Volgens Zondo gaan hy nie vanoggend 'n beslissing oor die onttrekkingsaansoek lewer nie. Hy het nog baie dokumentasie om deur te werk. Die dag sal gebruik word om aan die beslissing te werk. Die kommissie sal verdaag en môre om 10:00 hervat wanneer Zondo gereed behoort te wees om die beslissing bekend te maak.
Oudpres. Jacob Zuma het opgedaag by die ou raadsaal in Braamfontein, Johannesburg, waar die Zondo-kommissie se sittings plaasvind.