Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo-kommissie: Só is Bosasa-geld gewas en mense omgekoop

Angelo Agrizzi, voormalige hoofbedryfsbeampte van Bosasa het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping breedvoerig verduidelik hoe die maatskappy geld gewas het om mense mee om te koop.

Agrizzi
Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa.

Geld is deur verskeie maatskappye gekanaliseer, soos Jumbo Liquor.

Miljoene rand se drank word bestel, maar eerder as drank, lewer Jumbo kontant by Bosasa af. Tot R4 miljoen in “ ’n week of twee” is so bekom, het Agrizzi getuig.

Hy sê ’n kommissie van tussen 5% en 7% word eers afgetrek vir die “agent”, ene Riaan Hoeksma.

Volgens Agrizzi het die groot bedrae kontant wat hulle met die drankaankopeskema bekom het, egter te sigbaar begin raak, en het Jumbo liquors se boekhouers ook begin vrae vra. Hulle het dit toe gestaak.

Bosasa het ook die uitbetaling van werknemers se doodsvoordele gebruik. Dit het die versekeraar tyd geneem om eise na te gaan en Bosasa het aan die versekeraar voorgegee hy sal die uitbetaling aan ’n werknemer “voorskiet”.

Sodra die geld dan aan Bosasa uitbetaal is, het die maatskappy dit as omkoopgeld gebruik. Dit is nooit aan die werknemers uitbetaal nie.

Bosasa het ook ’n vulstasie in Belfast, Mpumalanga gekoop. Bosasa het geld elektronies in die vulstasie se rekening inbetaal en dan kontant van die vulstasie geneem.

Nog ’n metode wat gebruik is om kontant te genereer, is dat Bosasa nie-bestaande sagteware aan jeugontwikkelingsentrums in Noordwes, wat deur hom bedryf en gefasiliteer word, “verskaf”.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling betaal Bosasa vir die “sagteware”, wat dan ’n deel van die geld hou en die res aan omkoopgeld uitbetaal.

Volgens Agrizzi was dié geld bestem vir ’n verkiesingsveldtog in 2014 in Noordwes. Hy het gesê hy was by ’n vergadering by ’n stadion in Rustenburg waar Syvion Dlamini, direkteur van professionele dienste van Bosasa se jeugontwikkelingssentrums en ’n ANC-LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Noordwes (Agrizzi kon nie haar naam onthou nie, maar onthou dat ’n vrou was) teenwoordig was waar vir die geld gevra is.

Agrizzi sê die departement van korrektiewe dienste sou fakture aan Bosasa stuur en sê daar sou produkte op die faktuur wees wat nie eers in die tronk geëet word nie, soos boontjies, omdat daar nie BTW daarop betaal word nie.

Hy reken die waarde van die transaksie was sowat R3,4 miljoen en kontant van R1,8 miljoen is aan “die individu” uitbetaal vir die verkiesingsveldtog.

Die Lindela-repatriasiesentrum in Krugersorp is ook volgens Agrizzi deur Bosasa gebruik om geld te was.

“In een stadium het ons ’n baie geslote gemeenskap in Lindela . . . gehad. Die mense wat daar aangehou is, is toegelaat om kontant te hou. Ons het tussen R800 000 en R1 miljoen in veilige bewaring gehou. Ons het ’n kantien gehad waar hulle bykomende kruideniersitems kon koop.” Sowat R300 000 van die geld is dan na Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, geneem, maar dit het later “te min geword”.

Hulle het ook ’n stelsel van “spookwerkers” gebruik waar hulle arbeidskoste kon afskryf teen byvoorbeeld 100 tydelike werkers terwyl net 10 gebruik is. Die instelling van verpligte werkloosheidsversekeringsbydraes het egter in 2004 ’n einde aan die bedryf gesit.

Later het hulle ’n onderneming wat gevriesde hoenders verkoop, gebruik om omkoopgeld te bekom.

Agrizzi sê meer as 200 ton hoender per maand vir Bosasa se tronkspysenieringskontrakte was ter sprake.

“Ons praat van R6 miljoen.”

Agrizzi sê ’n faktuur sou aan Bosasa gestuur word en die hoofkantoor sal die faktuur kry en ’n elektroniese betaling doen (sonder dat daar ’n aflewering was). Die fakture is gestempel en vooruit betaal.

Agrizzi sê die departement van korrektiewe dienste sou fakture aan Bosasa stuur en sê daar sou produkte op die faktuur wees wat nie eers in die tronk geëet word nie, soos boontjies, omdat daar nie BTW daarop betaal word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.