Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Spioen getuig oor ‘miljoene aan MK-veterane’

Miljoene rande uit die geheime rekening van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) is na bewering aan Umkhonto weSizwe (MK)-veterane betaal vir busgeld, verblyf, kos en toelae om twee ANC-geleenthede by te woon.

In die een geval is R1 miljoen glo in Januarie 2016 uit die SVA-fonds onttrek en deur ’n geheime agent in Rustenburg gebruik vir die koste van MK-veterane om ’n byeenkoms van die ANC by te woon. Die veterane sou glo die byeenkoms bywoon en inligting aan die SVA verskaf oor moontlike optrede om die byeenkoms te ontwrig.

In die tweede geval is R1,85 miljoen in September 2016 na bewering uit die rekening van die SVA onttrek om MK-veterane se busgeld, verblyf, kos en toelae te betaal wat by Luthuli-huis in Johannesburg byeengekom het om betogers teen te staan wat onder die vaandel van #OccupyLuthuliHouse daarop aangedring het dat oudpres. Jacob Zuma moet bedank.

Thulani Dlomo, hoof van die beweerde onwettig gestigte spesiale eenheid in die Staatsveiligheidsagentskap. Foto: Argief

Vrae oor dié en ander beweerde betalings is Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aan ’n agent van die SVA gevra. Die agent het onder die skuilnaam Dorothy getuig.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het ’n bevel gemaak dat haar identiteit beskerm moet word. Sy het met ’n videoskakel getuig en haar gesig is nie gewys nie.

Dorothy het getuig in albei die gevalle het die opdrag glo van Thulani Dlomo, hoof van ’n beweerde onwettig gestigte spesiale eenheid in die SVA, gekom dat geld vir die MK-veterane gegee moet word.

Die kommissie het vantevore getuienis gehoor dat die spesiale eenheid glo deur Dlomo geskep is toe hy nog verbonde was aan die provinsiale regering in KwaZulu-Natal en toe in die SVA ingebring is. Daar is beweer Dlomo het die magte van die SVA misbruik om Zuma te dien toe hy as hoof van die spesiale eenheid aangestel is.

Dlomo is later glo deur Zuma met ’n ambassadeurskap in Japan beloon. Hy is in 2019 deur pres. Cyril Ramaphosa teruggeroep en van die amp onthef.

Dorothy het getuig in albei die gevalle waar MK-veterane betaal is, was dit in opdrag van Dlomo.

Volgens Dorothy het sy ook glo in Februarie 2017 ’n opdrag uitgevoer om R1,5 miljoen kontant aan oudminister David Mahlobo, destydse minister van staatsveiligheid, in Kaapstad te oorhandig. Dié opdrag is mondeling deur Arthur Fraser, voormalige direkteur-generaal van die SVA, gegee toe hy haar na bewering in Kaapstad na ’n parkeerterrein ontbied het.

Sy het getuig sy het die geld van ’n SVA-agent ontvang en na Mahlobo se ampswoning geneem. Volgens Dorothy was sy in Kaapstad ontplooi vir die Staatsrede (wat deur Zuma gelewer is).

Die getuienis duur voort.

Meer oor:  Mk-Veterane  |  Zondo-Kommissie  |  Spioen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.