Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo: Valke moet kom sê waar staan Prasa-ondersoek

Die Valke moet aan adjunkhoofregter Raymond Zondo kom verduidelik wat geword het van die ondersoek na die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika(Prasa) se R3,5 miljard-tender vir lokomotiewe.

Die tender is glo aan ’n frontmaatskappy toegeken.

“Ek het al gevra oor Prasa en is beloof iemand sal kom verduidelik,” sê Zondo, voorsitter van kommissie van ondersoek na staatskaping.

Hy het op Donderdag se sitting van die kommissie gesê daar is aantygings dat wetstoepassingsagentskappe moontlik korrupsie aangehelp het deur niks te doen nie.

“Dit is dalk ’n kwessie van kapasiteit, ek weet nie, maar hulle moet kom verduidelik.”

Ek het al gevra oor Prasa en is beloof iemand sal kom verduidelik.

Volgens Zondo skuld die Valke Suid-Afrika ’n verduideliking. Die kommissie wil weet hoekom die ondersoek so sloer.

Zondo het daarop gewys dat die hooggeregshof reeds in 2018 ten gunste van die destydse Prasa-direksie beslis het dat die Valke nie tenders aan die maatskappye Siyangena en Swifambo in die tyd toe Lucky Montana die uitvoerende hoof van Prasa was, behoorlik ondersoek het nie. Die hofaansoek is ingedien in die tyd toe Popo Molefe voorsitter van die direksie was.

Ryan Sacks, direkteur van Crowe Forensics wat Prasa se kontrak met Swifambo Rail Leasing ondersoek het, het Woensdag getuig die Valke het in 2017 ’n voorlopige verslag van hom gevra oor die tender wat Prasa aan Swifambo toegeken het, maar sedertdien het hy nie weer van die Valke gehoor nie.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - FEBRUARY 24: Director
Ryan Marc Sacks het Donderdag voor die Zondo-kommissie getuig. Foto: Gallo Images/Papi Morake

Sacks het Donderdag verder getuig oor die Prasa-tender van R3,5 miljard wat aan Swifambo toegeken is om lokomotiewe te verskaf, en hoe betalings van miljoene rande uit Swifambo se bankrekening gevloei het aan mense en entiteite wat oënskynlik niks gedoen het om die geld te verdien nie.

Swifambo het uiteindelik die Spaanse maatskappy Vossloh Espana gekontrakteer om die lokomotiewe te bou.

Volgens Sacks het Prasa op 5 April 2013 die eerste betaling van R460 miljoen aan Swifambo gemaak. Die betaling is gemaak in ’n bankrekening van Swifambo Rail Holdings, ’n verwante maatskappy wat nie deel was van die tenderkontrak met Prasa nie.

Daar is uit dié rekening betalings van R170 miljoen gemaak aan 16 entiteite en mense. Slegs R290 miljoen van dié Prasa-betaling is aan Vossloh Espana oorbetaal.

Sacks het getuig nadat die eerste Prasa-betaling aan Swifambo gemaak is, het daar binne ses dae R106 miljoen uit die rekening gevloei.

Betalings is gemaak aan Makhensa Mabunda, ’n gewese staatsamptenaar wat bande met Montana het. Mabunda het uiteindelik sowat R100 miljoen ontvang uit die transaksie “omdat hy ’n middelman was toe die tender toegeken is”, het Sacks getuig.

Zondo het hierop gesê Mabunda het die geld ontvang “bloot deur niks te doen nie”.

Die Afro-4000-lokomotiewe toe dit in 2015 in Kaapstad afgelaai is. Dié lokomotiewe was te hoog om op Suid-Afrikaanse spoorlyne gebruik te word. Foto: Liza van Deventer

Nog een van die mense wat sommer dadelik geld ontvang het nadat Prasa die eerste betaling aan Swifambo gemaak het, was Auswell Mashaba, direkteur en aandeelhouer van Swifambo Rail Leasing, aan wie R30 miljoen uitbetaal is.

Mashaba moes Woensdag voor die kommissie getuig het nadat hy gedagvaar is om dit te doen, maar hy het deur sy prokureurs laat weet hy beskou nie die dagvaarding as wettig nie.

Zondo het die sekretariaat van die kommissie opdrag gegee om ’n klag teen Mashaba by die polisie in te dien.

Mashaba het vantevore gesê hy is genader om sowat R80 miljoen aan die ANC te skenk toe Swifambo Rail Leasing die kontrak verkry het.

Sacks het getuig Mashaba voer aan hy is deur twee mense – Maria Gomes (’n Angolese sakevrou wat bande met die Zuma-familie het) en George Sabelo (’n prokureur) – genader en aangesê dat hy R79,4 miljoen aan die ANC moet betaal.

Mashaba het in die likwidasieproses van Swifambo aangevoer Gomes en Sabelo moet die geld terugbetaal en dat hy nie weet of dit ooit aan die ANC oorbetaal is nie.

Meer oor:  Ryan Sacks  |  Raymond Zondo  |  Valke  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.