Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo veroordeel aanslag op geheime getuie se lewe

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het Maandag die naweek se aanslag op die lewe van ’n geheime getuie voor die kommissie, bekend as Getuie 1, sterk veroordeel.

Die naweek is berig dat daar Saterdag op Getuie 1 geskiet is. Hy is voorheen al talle kere gedreig dat hy sy getuienis voor die kommissie moet heroorweeg.

Sunday Times het berig dat hy Saterdag op pad was na ’n Transnet-vergadering in Ekurhuleni toe ’n aantal mense op hom losgebrand het.

Hy het voorheen voor die kommissie getuig hy het in die Transnet-kantoor van Brian Molefe in die Carlton-sentrum in Johannesburg ’n ligbruin leer-rugsak met R200-note gesien.

Dit was dieselfde rugsak wat Molefe telkemale saam met hom geneem het wanneer hy met Ajay Gupta in die Gupta-woning in Saxonwold vergader het.

Daar was soveel R200-note in dié rugsak dat dit 30 cm hoog sou staan as dit op mekaar gestapel sou word, het Getuie 1 gesê.

Hy het ook getuig dat hy Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, asook Siyabonga Mahlangu (Gigaba se raadgewer), in die Guptas se Saxonwold-huis gesien het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo Foto: Argief

Adv. Paul Pretorius SC, hoofgetuienisleier van die kommissie, het Maandag bevestig dat daar Saterdag ’n aanslag op Getuie 1 se lewe was.

Die veiligheid van al drie getuies wat vir die staat as veiligheidsbeamptes gewerk het en getuig het wie hulle na die Guptas se huis in Saxonwold geneem het, wie hulle daar gesien het, asook die bedrae kontant wat hulle opgemerk het, gaan verskerp word.

Pretorius het gesê dit is belangrik dat al drie getuies anoniem bly en dat die bevel hieroor bly geld.

Zondo het gesê dit is uiters kommerwekkend dat daar mense in die gemeenskap is wat klaarblyklik aanhou probeer om diegene te intimideer en aan te val wat die land en die kommissie in sy ondersoek wil bystaan.

“Dit is mense wat die kommissie wil help om te verstaan wat gebeur het in die sake wat ondersoek word. Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat ’n aanslag gemaak is op die lewe van mense wat reeds voor die kommissie getuig het of nog voor die kommissie wil getuig,” het Zondo gesê.

Daar is mense wat probeer om diegene te verhoed wat die kommissie en die land wil help om uit te vind wat gebeur het. Dit (sodanige aanvalle) kan ander afskrik om die kommissie te laat hoor wat gebeur het.

Hy het ’n beroep gedoen op wetstoepassingsagentskappe om die kommissie by te staan en die saak (van die aanval op Getuie 1) spoedig te hanteer.

“Daar is mense wat probeer om diegene te verhoed wat die kommissie en die land wil help om uit te vind wat gebeur het. Dit (sodanige aanvalle) kan ander afskrik om die kommissie te laat hoor wat gebeur het,” het Zondo gesê.

Hy het die moed geprys van die talle mense wat – ten spyte van die bedreiging van hul veiligheid en hul lewe en dié van hul geliefdes – steeds na vore kom om voor die kommissie te getuig, “ongeag die misdadigheid van sommige in die gemeenskap wat probeer om mense stil te maak wat die kommissie wil help”.

Zondo het gesê hy is dankbaar dat Getuie 1 die aanslag op sy lewe oorleef het.

Getuie 1 het reeds in Augustus verlede jaar getuig dat hy in daardie stadium reeds by drie geleenthede gedreig is. Die eerste keer was in 2018 toe hy op sy Transnet-selfoon ’n oproep gekry het van ’n man wat gesê het: “Ons weet waar jy woon.”

Op 8 April 2019 is Getuie 1 deur die kommissie se ondersoekers ondervra en die dag daarna het hy om 21:20 ’n boodskap op sy Transnet-selfoon gekry: “As jy weet wat goed is vir jou, beveel ek jou om nie enige verdere inligting aan die Zondo-kommissie te gee nie. Ons weet selfs waar jy woon.”

Op 13 Januarie 2020, die eerste dag terug by Transnet ná sy vakansie, het hy weer ’n boodskap op sy Transnet-foon ontvang: “Ons is ten volle bewus daarvan dat jy getuienis gaan lewer voor die Zondo-kommissie en dat jy ander veiligheidswagte geïntimideer het. Jammer om jou in te lig, maar jy word gebruik. Jy is op jou eie. Indien jy jou lewe liefhet, stel ons voor jy bedank en verdwyn . . .”

Meer oor:  Raymond Zondo  |  Aanslag  |  Getuie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.