Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo weier uitstel van regter se getuienis

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo het Maandag regter Tintswalo Makhubele se aansoek van die hand gewys om haar getuienis voor die Zondo-kommissie tot September uit te stel.

Makhubele, wat deur vorige getuies betrek is by beweringe van staatskaping toe sy in 2017 raadsvoorsitter van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) was, se getuienis kon nie op 24 Julie plaasvind nie omdat sy nie daarvoor opgedaag het nie.

Regter Tintswalo Makhubele Maandag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Maandag het Zondo ’n aansoek vir die uitstel van haar getuienis van die hand gewys omdat sy volgens hom nie geldige redes daarvoor kon verskaf nie. Tog kon Makhubele ook nie Maandag met haar getuienis begin nie omdat die verrigtinge gesloer het weens verskeie besware wat sy en haar regsverteenwoordiger geopper het.

Sy het aangevoer dat sy nie sloertaktiek gebruik nie en dat sy graag haar kant van die saak wil stel.

“Ek is nie bang vir die beweringe nie, maar waarvoor ek bang is, is dat daar die persepsie geskep word dat ek ’n arrogante persoon is wat weier om met die kommissie saam te werk,” sê sy.

Sy het geëis dat adv. Vas Soni, ondervraer van die kommissie, nie haar getuienis lei nie omdat hy volgens haar partydig opgetree het teenoor haar op ’n konsultasiesessie in Junie. Sonder om veel uit te brei oor die meriete van haar bewering hieroor, het Zondo Soni vir die dag as getuienisleier van sy pligte onthef om tyd te bespaar.

Ek is net ’n eenvoudige meisie, maar ek handhaaf die amp van ’n regter. Ek glo dat jou reëls nie voorsiening maak vir regters en mense wat hoë ampte beklee nie.

Maar toe opper Makhubele weer ander kwessies.

Hoewel sy reeds in Februarie en later weer in Mei deur die kommissie ingelig is dat sy in getuienis betrek sou word, voer sy aan dat sy nie tyd gehad het om haar regspan te konsulteer nie. Sy moes glo ook haar beëdigde verklaring aframmel. Boonop was sy die afgelope ruk baie besig met haar werk in die hof. Trouens, sy moet Dinsdag uitspraak lewer in ’n misdaadsaak en haar getuienis voor die kommissie is besig om haar werk te belemmer, voer sy aan.

“Ek is net ’n eenvoudige meisie, maar ek handhaaf die amp van ’n regter. Ek glo dat jou reëls nie voorsiening maak vir regters en mense wat hoë ampte beklee nie.”

Hoewel Soni op die sitting gesê het die kommissie het skakels aan Makhubele verskaf vir die transkripsies van vorige getuies wat haar betrek, het Makhubele volgehou sy het nooit die skakels ontvang nie. Wat ook baie tyd in beslag geneem het, is dat sy soms baie kripties gepraat het, wat tot groot misverstande tussen haar en Zondo gelei het.

Ek is nie bang vir die beweringe nie, maar waarvoor ek bang is, is dat daar die persepsie geskep word dat ek ’n arrogante persoon is wat weier om met die kommissie saam te werk.

Zondo het uiteindelik beslis dat haar getuienis uitgestel moet word tot Woensdag en dat sy waarskynlik later vandeesmaand weer sal moet getuig. Die Woensdag-sessie sal heel moontlik tot in die aand voortduur.

Die uitstel sal volgens Zondo vir Makhubele kans gee om die transkripsies deur te werk, om haar regspan behoorlik te konsulteer en om ’n aanvullende beëdigde verklaring in te dien.

Makhubele sê sy het “berge en berge” bewysstukke wat haar getuienis sal staaf.

Zondo het haar ook versoek om ’n skriftelike aansoek teen Vrydag in te dien met haar beweringe teen Soni sodat hy kan beslis of Soni die getuienis later vandeesmaand moet lei of nie. Woensdag sal Zondo voorlopig sommer self vrae aan haar stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.