Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zondo wil weet of Prasa-loko’s te hoog was of nie

Maar die lokomotiewe het dan van Kaapstad af na Johannesburg gery – dit is nie soontoe gevlieg nie.

Dít is die verduideliking wat Sfiso Buthelezi, wat in 2017 deur pres. Jacob Zuma as adjunkminister van finansies aangestel is, in ’n beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gegee het oor die omstrede tender vir die Afro 4000-lokomotiewe.

Een van die Afro 4000-lokomotiewe wat aan die brand geslaan het. Foto: Leanne George

Dié lokomotiewe is as onveilig verklaar om op Suid-Afrikaanse spoorlyne te loop omdat dit te hoog is en elektriese kortsluitings kon veroorsaak indien dit aan oorhoofse spoorinfrastruktuur raak.

Buthelezi was vantevore tien jaar in die direksie van die Passasierspooragentskap (Prasa) en ses jaar die voorsitter van die direksie – juis in die tydperk toe die tender toegestaan is vir die Afro 4000-lokomotiewe.

In dieselfde maand dat die lokomotiewe in Desember 2014 in die Tafelbaai-hawe in Kaapstad aangekom het, het Buthelezi as voorsitter van die Prasa-direksie bedank.

Buthelezi se beëdigde verklaring aan die Zondo-kommissie, waarin hy dele van die vroeëre getuienis van Popo Molefe bevraagteken, is Donderdag gestel aan Molefe, oud-voorsitter van die Prasa-direksie wat Buthelezi opgevolg het in dié amp.

Volgens Buthelezi het die lokomotiewe tussen Kaapstad en Johannesburg gery, ook deur tonnels wat op dié roete is.

Molefe het hierop geantwoord die werklikheid is dat die treine nie pas nie. Transnet het aan Prasa gesê die lokomotiewe is ’n veiligheidsrisiko.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê soos hy dit verstaan, was die kritiek dat die lokomotiewe nie gebruik kon word nie. Dit sal dalk goed wees om nou eens en vir altyd ’n antwoord hieroor te kry.

Daar is mense wat sê die lokomotiewe is te hoog, maar dan is daar mense soos Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van Prasa, wat laat blyk het alles was reg.

Hierop het Molefe geantwoord hy bevestig dat die lokomotiewe te hoog was. “Daar is geen kwessie nie, dit was te hoog, al kon dit op die spore tussen Kaapstad en Johannesburg beweeg. Ons het bewyse dat dit gebrand het toe die lokomotiewe oor ’n sekere brug beweeg het,” het Molefe gesê.

Die treine kon nie gebruik word vir die doel waarvoor dit verkry is nie. Dat die treine van Kaapstad na Gauteng kon ry, beteken nie dat dit bruikbaar was nie. Die gevaar was dat dit aan oorhoofse elektriese infrastruktuur kon raak, wat ’n brandgevaar inhou, het Molefe getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.