Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zulu se BIG-pratery net ’n rookskerm

Met haar skokaankondiging Maandag van ’n basiese inkomstetoelae (BIG) vir armes – waarvoor nie ’n sent begroot is nie – het Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, die aandag probeer aflei van haar eie departement en Sassa se onvermoë om die land se armste mense gedurende die Covid-krisis betyds te help.

Lindiwe Zulu

Zulu het Maandag uit die bloute aangekondig ’n nuwe toelae is “terug op die tafel” en sal “ná Oktober” uitbetaal word.

Reuters het bereken dit kan jaarliks ’n bykomende R42 miljard kos. Zulu het geen aanduiding gegee van hoe die nuwe toelae gefinansier sou word nie.

“Sy het geen mandaat om ’n algemene basiese inkomstetoelae aan te kondig soos sy Maandag gedoen het nie. Die nasionale tesourie weet ook niks daarvan nie,” het ’n hooggeplaaste bron in die regering Vrydag gesê.

Hoewel die regering druk beraadslaag oor hoe om hongersnood onder die armstes te verlig, is ’n bykomende basiese inkomstetoelae heeltemal onbekostigbaar, volgens Rapport se bron.

Die spesiale Covid-19-toelae is ’n tydelike toelae van R350 per maand wat tussen Mei en Oktober betaal sou word aan mense wat hul inkomste verloor het en geen ander staatstoelae kry nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, het by herhaling gesê dié spesiale toelae eindig in Oktober.

Zulu se aankondiging het saamgeval met die bekendmaking Maandag van ’n navorsingsverslag deur die Universiteit van Kaapstad oor hoe Zulu se departement die uitbetaling van die Covid-toelaes met minstens vier weke vertraag het. Miljoene mense het in dié tyd kosnood ervaar, het die afgelope week geblyk. Dit was alles voorkombaar, wys die UK-navorsing.

Prof. Jeremy Seekings, direkteur van die sentrum vir sosiaal-wetenskaplike navorsing, het in sy navorsingsverslag Rapport se berigte bevestig dat die Inkomstediens (SAID), Reserwebank, Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), Bankserv en die betaalstelselafdelings van al die grootste banke sou saamwerk om ’n unieke inligtingstegnologie-platform te skep wat die uitbetalingsproses van die R350-toelae sou vereenvoudig en versnel. Maar Sassa het dit gekeer.

Die toelae is op 21 April deur Ramaphosa aangekondig en soveel as 10 miljoen mense kom daarvoor in aanmerking.

Die banke wou dadelik help. Die projekte-kantoor in die presidensie het die aanvoorwerk vir samewerking gedoen en het druk op die instellings geplaas om hul databanke beskikbaar te maak.

Die datastelle was so groot dat dit nie elektronies gestuur kon word nie. Dis uiteindelik as hardeware in voertuie gelaai en met gewapende wagte na ’n sentrale plek in Pretoria gebring.

Met die nuwe stelsel sou aansoeke binne ’n dag gekeur en die toelae binne twee tot ses weke uitbetaal word.

“Maar Sassa het die plan gekelder en aangedring dat ’n ingewikkelder, meer tydrowende proses gevolg word,” lui Seekings se verslag.

Op Sassa se aandrang word aansoeke ontvang en gekeur, en dan aan die SAID gestuur om seker te maak dat die aansoekers geen belasting betaal nie.

Dit word elke paar dae in groepe van 300 000 aansoeke aan die SAID gestuur, getoets, en teruggestuur. Die elektroniese lêers wat Sassa aan die SAID stuur, is egter dikwels korrup en moet dan oorgedoen word.

Eers dán word die bankbesonderhede van die aansoekers gekry en geverifieer. Daarna begin uitbetalings. Die proses duur nou ses weke mits niks verkeerd loop nie. Maandag, meer as tien weke nadat die proses begin het, het nog net 3,4 miljoen mense die eerste maand se toelae ontvang en is net R1,2 miljard van die R20 miljard wat daarvoor begroot is, uitbetaal.

“Aanvanklik het Sassa op 1 Mei gesê dit sal drie dae duur om ’n aansoek goed te keur van die datum waarop dit ontvang is. Uiteindelik het dit meer as 20 dae geduur,” sê Seekings.

Terwyl Sassa telkens belowe het die eerste betalings kom op 15 Mei, is dit eers op 26 Mei gedoen. Teen einde Mei is skaars 113 000 uitbetalings gedoen.

Tot dusver het 7,2 miljoen mense vir die toelae aansoek gedoen, maar bykans die helfte is afgekeur omdat hulle volgens Sassa se gegewens geld van die WVF kry. Sassa se data is egter verkeerd: tot 85% van diegene wie se aansoeke afgekeur is, kry geen voordele van die WVF nie.

Die aansoeke word nou oorgedoen.

Seekings sê sover hy kon vasstel, is geen elektroniese kontantbetalings na selfoonnommers gemaak soos FNB se eWallet of Absa se CashSend nie. Sassa dring daarop aan dat die toelae in bankrekeninge inbetaal word, al wys peilings dat tot 40% van mense wat werkloos is, in huishoudings leef waar niemand bankrekeninge het nie.

Meer oor:  Lindiwe Zulu  |  Toelaes  |  Said  |  Sassa  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.