Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zulu se departement ‘gaan help teen bendegeweld’

Die departement van maatskaplike ontwikkeling is deel van die regering se breër program om die vlaag van dwelmverwante bendegeweld op die Kaapse Vlakte en in ander dele van die land te beveg.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het dit Woensdag by die parlement gesê en bygevoeg dat dit ook een van haar departement se dringendste prioriteite is om alkohol- en dwelmmisbruik, “wat epidemiese proporsies bereik het”, te help beveg.

“Veral die toenemende verslawing aan dwelms soos nyaope en tik,” het sy in haar begrotingsdebat in die Nasionale Raad van Provinsies gesê.

Sy het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om die regering te help om hierdie euwel te beveg.

“Ons veroordeel ook dwelmhandel en werk saam met wetstoepassingsagentskappe om hierdie boosheid in ons gemeenskappe uit te roei. Almal moet hul deel doen,” sê Zulu.

Lindiwe ZuluFoto: Daily Sun

“Ons veroordeel verder die onlangse vlaag van dwelmverwante bendegeweld wat in townships en woonbuurte in die Wes-Kaap en in ander dele van die land voorkom. Ons ondersoek moontlike meganismes om die sentrale dwelmowerheid te versterk.”

Lede van die polisie, weermag en ander wetstoepassingsagentskappe patrolleer tans in ’n gesamentlike operasie bende-, dwelm- en geweldgeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte om veral die stygende moordsyfers daar teen te werk.

Volgens Zulu beloop haar departement se begroting vir die 2019-’20-boekjaar sowat R184 miljard. Sowat R175 miljard hiervan gaan vir maatskaplike toelae aan 17 miljoen begunstigdes.

Zulu sê sy is bewus van die bedrog en korrupsie by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa).

“Ons bly daartoe verbind om hierdie verslegtende gedrag in al ons programme te beveg. In hierdie verband het ons R60 miljoen vir die ondersoek van bedrog en korrupsie met maatskaplike toelae in die huidige boekjaar toegeken,” sê sy.

“Die kwessie hier is dat ons daardie bedrag geld (die R60 miljoen) eerder opsy moes gesit het om mans en vroue in hul klein en mediumondernemings te ondersteun, maar ons weet menslike gedrag is een van die probleme in Suid-Afrika, en ons moet dit oplos.”

Volgens haar is daar reeds met beslissende stappe begin om Sassa eerste te stabiliseer.

“Soos ek verlede week in die Nasionale Vergadering gesê het, het ons reeds 2 800 moontlike bedrieglike Sassa-rekeninge opgeskort. Die meeste daarvan is in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal,” sê Zulu.

“Ons het ’n permanente uitvoerende hoof, Busisiwe Memela-Khambula, aangestel en sal die vul van noodsaaklike poste landwyd prioritiseer.”

Volgens Zulu sal hulle ook die Sassa-wet hersien om bestuurskwessies in die agentskap op te los.

“Dit is ’n belangrike stap vorentoe omdat ons daarna streef om aanspreeklikheid en bedryfsdoeltreffendheid in die entiteit te versterk.”

Meer oor:  Lindiwe Zulu  |  Kaapse Vlakte  |  Regering  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.