Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Zuma behoort in hegtenis geneem te word’ – kenner

Die regeerkundige prof. Erwin Schwella sê daar is genoeg feite en regsgronde om oudpres. Jacob Zuma nie net te vervolg nie, maar ook summier in hegtenis te neem.

Dit kom ná die opspraakwekkende getuienis vandeesweek voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping dat die Staatsveiligheidsagentskap R54 miljoen aan Zuma betaal het.

Prof. Erwin Schwella Foto: Facebook

“As dié soort ernstige prima facie-klagte teen gewone landsburgers bekend was, sou daar lankal inhegtenisnemings gewees het en borgtog sou waarskynlik nie toegestaan gewees het nie,” sê Schwella, dekaan van die skool vir sosiale innovasie aan die Hugenote Kollege in Wellington.

Maar, soos George Orwell in sy boek Animal Farm geskryf het, is alle diere gelyk, maar sommige diere is meer gelyk as ander, sê hy.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê in ’n verklaring dié party sal die Valke vra om die bewerings oor die betalings aan Zuma te ondersoek.

“Indien dit wel gebeur het, moet Zuma strafregtelik vervolg word.”

Emeritus-professor Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa, sê die regstelsel tref geen onderskeid tussen voormalige staats- en regeringshoofde en gewone landsburgers nie.

“Almal is gelyk voor die reg en niemand het verhewe status nie.”

As dié soort ernstige prima facie-klagte teen gewone landsburgers bekend was, sou daar lankal inhegtenisnemings gewees het en borgtog sou waarskynlik nie toegestaan gewees het nie

Tog waarsku hy dat al kom die getuienis teen Zuma dalk as prima facie en oorweldigend verdoemend voor, moet dit behoorlik in die toepaslike howe getoets word.

“Die getuienis behoort deur die aanbied van getuies en kruisondervraging getoets te word sodat dit bo redelike twyfel bewys kan word.

“Die korrekte regsprosedure móét gevolg word. Dit is die verskil tussen ’n regstaat en ’n boendoehof. Hoewel baie mense wil sien dat Zuma aan die pen ry, kan sy reg tot ’n billike en regverdige verhoor nie misken word nie,” sê Labuschagne.

Schwella het vroeër in ’n YouTube-video oor integriteit, leierskap en sosiale innovasie gewaarsku dat indien Suid-Afrika nie terugkeer na ’n situasie waar integriteit belangrik is nie, stuur hy op ’n moontlike burgeroorlog af.

Dit is omdat korrupsie kohesie tussen mense in die wiele ry en konflik kan skep – ’n “oorlog waarin almal teen almal veg”.

“Dit is iets wat te erg is om oor te dink,” sê hy.

“Wanneer waardes vernietig word, lei dit byvoorbeeld tot die verkrummeling van paaie, hospitaaldienste wat verswak en riool wat deur die strate stroom.

“As dit lank genoeg aanhou, kan jou geldeenheid verswak. En as jy dit nóg langer laat aanhou, kom mense toenemend in konflik met mekaar, wat dit moeilik maak om ’n samelewingskohesie te bou,” meen Schwella.

As dit lank genoeg aanhou, kan jou geldeenheid verswak. En as jy dit nóg langer laat aanhou, kom mense toenemend in konflik met mekaar, wat dit moeilik maak om ’n samelewingskohesie te bou.

Integriteit het ook ’n materiële waarde wat, met die afwesigheid daarvan, uiteindelik ’n negatiewe invloed op ’n land se bruto binnelandse produk het.

“As Suid-Afrika die vlak van integriteit met net 2% kan verhoog – dit is as die regte goed op die regte tyd en op die regte manier (teen korrupsie) gedoen word – kan ons ’n beduidende bydrae tot ons BBP maak,” sê Schwella.

Die nasionale vervolgingsgesag het navrae na die Valke verwys. Dié het nog nie reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.