Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma: Beskuldigde? Getuie? Slagoffer Nr. 1. ...

’n Komplot wat al drie dekades oud is, apartheidspioene wat steeds bedrywig is en selfs sluipmoordplanne om van hom ontslae te raak.

Dít maak alles van Jacob Zuma ’n slagoffer, het die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Maandag in Johannesburg gehoor.

Oudpres. Jacob Zuma

Die oudpresident het eindelik voor die kommissie verskyn.

Hy het in sy openingstelling, voordat daar met sy ondervraging begin is, gesê hy wil die agtergrond gee en die “kolletjies verbind” van die sameswering wat sedert die 1990’s teen hom gevoer word.

Hy het verwys na spioene in die ANC, asook na “drie intelligensie-agentskappe” – waarvan twee uit die buiteland – wat al jare lank sy ondergang probeer bewimpel.

Hy het wel geen besonderhede gegee nie.

Volgens hom is alles wat tot dusver met hom gebeur het – die spioenasiebande-hofsaak waarin hy steeds op korrupsieklagte teregstaan; die talle mosies van wantroue in die parlement teen hom; die verslag van adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, oor staatskaping teen hom; sy uiteindelike verwydering as staatshoof; én selfs die Zondo-kommissie – alles deel van die “plan” teen hom.

“Hierdie kommissie is veronderstel om Zuma se graf te wees. Hy moet hier begrawe word,” het hy gesê. Die sameswering is gesmee omdat hy glo destyds al as die ANC se hoof van intelligensie “baie inligting” gehad het oor apartheidspioene wat die ANC “geïnfiltreer” het.

Van die “spioene” wie se name hy wel genoem het, sluit in adv. Ngoako Ramatlhodi, oudminister en voormalige premier van Limpopo wat vroeër voor die kommissie getuig het, en die joernalis Redi Tlhabi.

Ramatlhodi het woedend daarop gereageer en Maandagmiddag gesê hy daag Zuma uit om saam met hom ’n leuenverklikkertoets te ondergaan.

Ondersteuners gister in Parktown.Foto: felix dlangamandla

Zuma het gesê hy is veral die afgelope dekade as staatshoof beswadder en as die “koning van korrupsie” gebrandmerk, maar hy het nog nooit daarop gereageer nie.

Volgens hom is Penuell Maduna, voormalige minister van justisie, en adv. Bulelani Ngcuka, eertydse nasionale direkteur van openbare vervolging, onder andere ten tyde van die Schabir Shaik-hofsaak na hom gestuur om hom te oorreed om uit die ANC-leierskorps te bedank.

“Ek moes huis toe gaan in Nkandla en aftree. Hulle sou na my kyk en ek sou R20 miljoen kry as ek bedank het.”

Zuma het ook genoem daar was talle moordkomplotte teen hom. “Mense wou my vergiftig of is opdrag gegee om dit te doen. Baie pogings is aangewend om my uit te kry.”

Volgens hom is selfs selfmoordbomaanvallers uit die buiteland gestuur om hom by ’n musiekkonsert in Durban te vermoor nadat hy as president van die ANC uitgetree het.

Dit het misluk omdat hy nie gegaan het nie, het hy gesê.

Terwyl ’n skare ondersteuners buite die lokaal gewag het, het Zuma ook opmerkings gemaak oor sy bande met die Guptas – wat hy “comrades en sakemanne” genoem het.

Hy gaan die res van dié week ondervra word oor getuienis wat vroeër oor sy beweerde regstreekse betrokkenheid by staatskaping gelewer is deur onder andere Maseko, Ramatlhodi, Maduna, Pravin Gordhan, Vytjie Mentor, Barbara Hogan en Nhlanhla Nene.

Hy het erken dat hy met hulle vriende is, maar het ontken dat hulle enige invloed op regeringsake uitgeoefen het.

Hy het gesê die Guptas was ook bevriend met oudpres. Nelson Mandela en oudpres. Thabo Mbeki.

Zuma het getuig hy het aan die Guptas voorgestel om die koerant The New Age en later die TV-kanaal ANN7 te stig omdat die media in Suid-Afrika baie eensydig is.

Adv. Paul Pretorius, getuienisleier, het Zuma later gevra of hy Themba Maseko, destydse hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens (GCIS), aangesê het om die Guptas te help.

Hy het uit ’n verklaring van Maseko voorgelees dat die Guptas agter die regering se mediabegroting van R600 miljoen aan was en dat Zuma hom sou gebel en gesê het: “My broer, die Gupta-ouens is hier wat jou wil ontmoet en wat jou hulp nodig het. Help hulle asseblief.”

Zuma het gesê hy kan nie so ’n telefoonoproep onthou nie en dat hy gereeld met baie direkteurs-generaal geskakel het.

Hy het op ’n verdere vraag geantwoord dat indien dit wel gebeur het, was dit ’n versoek om hulp, nie om onwettig op te tree nie.

“My rol in baie gevalle was om te fasiliteer.”

Zuma het in ’n lang, swart motorstoet by die gebou in Parktown aangekom.

Van sy ondersteuners het uit KwaZulu-Natal daarheen gereis.

Hy is ook deur van sy getrouste politieke lojaliste en senior ANC-lede ondersteun, soos Supra Mahumapelo, Des van Rooyen, Faith Muthambi, Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni; Kebby Ma­phatsoe, president van Umkhonto weSizwe se veteranevereniging (MKMVA). en Carl Niehaus, MKMVA-woordvoerder.

Hy gaan die res van dié week ondervra word oor getuienis wat vroeër oor sy beweerde regstreekse betrokkenheid by staatskaping gelewer is deur onder andere Maseko, Ramatlhodi, Maduna, Pravin Gordhan, Vytjie Mentor, Barbara Hogan en Nhlanhla Nene. - Llewellyn Prince, Philda Essop, Christiaan du Plessis en Marelize Barnard

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.