Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Drama toe Zuma dreig om te swyg

Oudpres. Jacob Zuma het byna-byna Woensdag sy baadjie gevat en uit die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gestap sonder om verder te getuig.

En dit is geen uitgemaakte saak dat hy wel Vrydag, wanneer die kommissie hervat, verder sal getuig nie.

Jacob Zuma
Oudpres. Jacob Zuma Woensdagoggend voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Felix Dlangamandla

Dít omdat hy en sy regspan nie gelukkig is met die vrae wat aan hom gevra word en hoe dit gevra word nie.

Adv. Muzi Sikhakhane SC, Zuma se regsverteenwoordiger, het gesê hy meen Zuma is met voorbedagte rade na die kommissie gebring om aan kruisondervraging onderwerp te word.

Daarom het Sikhakhane Woensdagmiddag kort ná middagete daarop aangedring dat die verrigtinge eers gestaak word.

“Ek wil met hom (Zuma) praat en hoor of hy bereid is om gekruisondervra te word. Dit is nou vir my duidelik dat hy gekruisondervra word,” het Sikhakhane gesê kort voordat hy Zuma se derde dag van getuienis voor die kommissie net ná 14:30 kortgeknip het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het verrigtinge tot 15:00 verdaag.

Alles het begin toe Zuma by die hervatting van verrigtinge ná middagete aangedui het dat hy “ ’n probleem” het omdat hy gedwing word om deur besonderhede van amptenare te gaan.

“Ek is nie ’n sekretaresse wat notules neem nie. Ek het nie met die besonderhede gewerk nie. Dit sal die kommissie sy eie gevolgtrekkings laat maak. Die direkteur-generaal of die sekretaresse sal weet wat die besonderhede in die dokumente is. Ek weet nie waarom ek die besonderhede moet verskaf nie.”

Hy was ontevrede nadat adv. Paul Pretorius SC, getuienisleier, hom gepeper het met vrae oor Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, se vroeëre getuienis voor die kommissie dat Zuma in 2009 ingemeng het in die aanstelling van Siyabonga Gama as uitvoerende groephoof van Transnet, ’n aantyging wat Zuma ten sterkste ontken.

Zondo het Zuma daarop gewys dat dit belangrik is vir die kommissie om sy weergawe te verstaan om uiteindelik tot ’n gevolgtrekking oor die bewerings te kan kom.

“Daar gaan ’n tyd kom wanneer die kommissie na al die getuienis moet kyk en bepaal wat die waarheid is. Net omdat jy sê wat sy (Hogan) gesê het, is nie waar nie, kan nie die einde van die saak wees nie.

‘Mág kaders kies’

Die ANC as regerende party het die reg om aan die regering voor te skryf watter lojale kaders as senior bestuurders en direksielede van staatsentiteite (SOE’s), asook hoofde van regeringsdepartemente aangestel moet word, het oudpres. Jacob Zuma gister voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig. 

“Geen party ter wêreld sal verkiesings wen en daarna van sy eie ondersteuners vergeet en ander mense (in topposte) aanstel... wat die ANC-regering se werk kan saboteer en maak dat jy die volgende verkiesing verloor nie,” het Zuma gesê.

Adv. Paul Pretorius SC, getuienis­leier, het hom daaroor uitgevra nadat Barbara Hogan, oudminister van openbare ondernemings, vroeër getuig het dat faksiebelange ná die ANC se Polokwane-verkiesingskonferensie in 2007 hoogty gevier het en as deel van hul netwerke van patronaatskap het hulle finaal besluit oor wie in sekere poste aangestel moes word. 

“Die kommissie moet soveel moontlik kante van die kwessie belig voordat ’n bevinding gemaak word.

“Maar voel vry om te sê jy het nie met daardie spesifieke besonderhede te doen gehad nie,” het Zondo gesê.

’n Duidelik omgekrapte Zuma het toe gesê: “Ek hoor jou, voorsitter, maar dit los nie my probleem op nie. Ek weet nie wat beteken die bewering van die minister dat ek ingemeng het nie. As ’n amptenaar byvoorbeeld aangestel word, word die president gekonsulteer. Ek verstaan nie wat bedoel word met ek het ingemeng nie.

“Die bewering is dat die president ingemeng het. Ek het gereageer, ek het nooit ingemeng nie. Selfs al het ek met haar gepraat, het ek nie daardie saak so bespreek nie. Ek het reeds die vraag beantwoord dat ek nooit so iets gesê het nie. As ek wel deur die besonderhede gaan, het ek ’n probleem, want ek het klaar die aantygings ontken.”

Zuma het bygevoeg dat die kabinet as ’n geheel oor sulke sake beslis.

Zuma se getuienis is by die hervatting Woensdagmiddag voorlopig tot Vrydag uitgestel.

“Daar is ’n gesprek gevoer voor my en die kommissie se regspan, asook die oudpresident se regspan, en albei het ’n voorstel gedoen waartoe ons ingestem het,” het Zondo gesê.

“Waaroor ooreengekom is, is dat albei regspanne ’n kans moet kry om na die besware te kyk en te sien of ’n manier gevind kan word dat Zuma geakkommodeer word sonder dat die kommissie se regspan sy verpligtinge kompromitteer.”

Volgens Zondo word Zuma se getuienis tot Vrydag uitgestel om die regspanne kans te gee om ’n middelweg te vind sonder dat die kommissie sy plig versuim.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.