Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma bedank kort voor spertyd
Pres. Jacob Zuma Woensdagaand aan die woord in die Uniegebou in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Pres. Jacob Zuma het uiteindelik bedank.

Zuma het Woensdagnag laat op ’n mediakonferensie in die Uniegebou in Pretoria sy bedanking aangekondig.

Dit was net sowat anderhalf uur voor die spertyd wat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) vroeër vandeesweek aan hom gestel het. 

Die NUK het hom Maandagnag ná ’n marathonvergadering van 13 uur as staatshoof herroep. 

Zuma se bedanking bring ook mee dat die mosie van wantroue wat Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering (NV) teen hom aangehoor sou word, nie meer nodig is nie.

Zuma, wat vir twee termyne die ANC-president was, het in 2007 die party se leier geword.

Die volgende jaar het hy ’n sleutelrol gespeel om sy voorganger, pres. Thabo Mbeki, uit te skop.

Nadat oudpres. Kgalema Mothlante as president waargeneem het, is Zuma in Mei 2009 op ’n reënerige dag by die Uniegebou in Pretoria ingehuldig as die land se derde president sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

In 2012 is hy in Mangaung (Bloemfontein) met ’n groot meerderheid tot ANC-president herkies. Ramaphosa het toe adjunkpresident geword.

Zuma het egter die laaste paar jaar al hoe ongewilder geword in die ANC en het die skuld gekry vir die party se sukkelvertoning in die plaaslike verkiesing in 2016 toe dié party die metrorade van Tshwane (Pretoria), Johannesburg en Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) aan DA-koalisies moes afstaan.

Zuma, wat heelparty mosies van wantroue in die parlement oorleef het, het die laaste tyd ook verskeie kere in die hof bloedneus gekry.

Hy is selfs in adv. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer (OB), se staatskapingsverslag by staatskaping geïmpliseer.

Verlede maand het die hooggeregshof in Pretoria Zuma se aansoek dat Madonsela se verslag op hersiening geneem word, met koste van die hand gewys.

’n Volbank regters het beslis hoofregter Mogoeng Mogoeng moet, soos Madonsela voorgestel het, die voorsitter aanwys van ’n regterlike kommissie wat staatskaping moet ondersoek.

Dit het gebeur. Adjunkhoofregter Raymond Zondo sal die kommissie lei wat binnekort met sy werk begin.

Zuma ontwyk die gereg al langer as ’n dekade op aanklagte van korrupsie.

In Oktober verlede jaar het die appèlhof beslis Zuma kan van korrupsie aangekla word nadat hy en sy regspan die saak in ’n rits hofsake en met sloertaktiek oor jare uitgerek het.

Die appèlhof het die destydse base by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) skerp veroordeel omdat hulle in 2009 die irrasionele besluit geneem het om die klagte te laat vaar.

Die konstitusionele hof het op sy beurt bevind Zuma het met die Nkandla-sage, waar honderdmiljoene rande van belastingbetalersgeld gebruik is om sy private woning op te knap, die beginsels van die regstaat geminag.

Meer oor:  Bedank  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.