Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma dring glo aan dat Transnet R8 m. betaal, hoor Zondo

Oudpres. Jacob Zuma, oftewel “Nommer Een” soos daar na hom verwys is, het daarop aangedring dat Transnet ’n rekening van R8 miljoen betaal vir treinwiele wat in werklikheid nooit afgelewer is nie.

Zuma het volgens nuwe getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gereeld ingemeng in Transnet se sake, soos dié rekening vir treinwiele wat hy “afgehandel” wou hê.

Dít was Woensdag die getuienis van adv. Siyabulela Mapoma, van Oos-Londen, wat vantevore ’n hoofbestuurder in Transnet se interne regsafdeling was.

“Die inmenging van die presidensie in Transnet-sake was nie vir my vreemd nie,” volgens Mapoma.

Hy het gesê Zuma het ’n brief geskryf nadat ’n diensverskaffer R8 miljoen geëis het vir treinwiele. ’n Ondersoek wat gedoen is, het gewys die wiele is glad nie eens afgelewer soos wat in die rekening aan Transnet staan nie.

Oudpres. Jacob Zuma in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Sandile Ndlovu

“Die president het ’n brief geskryf wat ek moes beantwoord. Die inhoud van die brief was ’n vraag van die president oor waarom die saak nie afgehandel word nie,” volgens Mapoma.

Transnet het voortgegaan om die eis teen te staan en het bewys daar is geen treinwiele afgelewer nie. Die eis is die oggend voordat die diensverskaffer ’n aansoek teen Transnet in die hof sou bring, deur die eiser teruggetrek, het Mapoma getuig.

Sy getuienis is deel van die kommissie se ondersoek na die kaping van Transnet. Dit sluit in die omstrede heraanstelling van Siyabonga Gama, wat daarop aangedring het hy wil Maria Ramos se pos as uitvoerende hoof van Transnet hê.

Mapoma het getuig hoe Zuma ook na bewering in die Gama-heraanstelling ingemeng het. Mapoma het ’n oproep van Siyabonga Mahlangu ontvang in sy hoedanigheid as raadgewer van Malusi Gigaba wat in daardie stadium die minister van openbare ondernemings was. Dit het gehandel oor die heraanstelling van Gama by Transnet en Mahlangu het gesê daar is kommer by die ministerie en die presidensie dat dit so lank neem om Gama aan te stel. Hy wat Mapoma is moet help dat die proses bespoedig word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gevra hoekom Mapoma in sy getuienis daarna verwys dat die versoek vanaf die minister of die president sou kom, waarop hy getuig het: “Mahlangu het die taal gebruik wat mens laat verstaan dat hy die president verteenwoordig. Hy het na Nommer Een verwys. Dit het ek verstaan as die president.”

Zondo het voor Mapoma se getuienis Woensdagoggend gesê daar is kwessies wat hy wil uitwys oor die afdanking van Gama, volgens getuienis wat vroeër voor die kommissie gelewer is.

Gama is in 2010 afgedank ná ’n tugverhoor waarin hy skuldig bevind was aan drie gevalle van wangedrag.

Volgens die getuienis van Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, was die pos van uitvoerende hoof van Transnet vakant nadat Ramos daar weg is. Gama was een van die kandidate vir die pos, maar die destydse Transnet-direksie het gemeen hy is nog nie gereed vir so senior pos nie, en daar was ook die aantygings van onreëlmatighede teen hom wat Transnet nog ondersoek het.

Die direksie het aanbeveel dat Sipho Maseko, die ander kandidaat vir die pos, aangestel word.

Hogan het getuig toe sy aan Zuma aanbeveel het Maseko moet die pos kry, het Zuma gesê hy het slegs een keuse vir die pos, en dit is Gama.

Volgens Hogan het sy kapsie gemaak en die direksie se gevoel dat Gama nie reg is vir die pos nie, aan Zuma oorgedra. Zuma se antwoord hierop was glo dat die pos dan nie gevul sal word totdat die prosesse teen Gama nie afgehandel is nie. Hogan het aan Zuma uitgewys dit is ’n sleutelpos wat gevul moet word, maar Zuma het glo gesê hy is nie bereid om sy mening daaroor te verander nie.

Met Zuma se getuienis voor die kommissie het hy aangevoer dat hy nie so ’n benadering sou gehad het nie en dat hy die direksie se keuse sou aanvaar het.

Die pos is vroeg 2011 deur Brian Molefe gevul en toe Molefe in 2015 na Eskom verskuif is, het Gama die waarnemende groephoof van Transnet geword.

• ’n Lyfwag van Gama het op 13 Augustus vanjaar voor die kommissie getuig hy het Gama drie keer na die Guptas se Saxonwold-huis geneem. Hy het ook getuig hoe hy kontant in verskillende voertuie van Gama gesien het. In die een geval was daar R200-note in die spaarwiel-kompartement en ’n ander keer was daar R200-note in ’n rooi noodhulpkassie.

• In ’n verslag wat die regsfirma MNS opgestel het nadat hy forensiese ondersoeke namens Transnet gedoen is, is aangevoer Gama het die Gupta-verwante maatskappye Regiments en Trillian op bedrieglike wyse aangestel as hoofkonsultante in die omstrede kontrak van R54 miljard om 1 064 nuwe lokomotiewe van China te koop.

Gama is in 2018 by Transnet afgedank. Hy het sy afdanking in die arbeidshof beveg, maar die saak verloor.

Meer oor:  Transnet  |  Zondo  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.