Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma: Ek is ’n slagoffer van sameswerings
Oudpres. Jacob Zuma het Maandag uit sy eie voor die Zono-kommissie na staatskaping getuig. Foto: Felix Dlangamandla

’n Internasionale sameswering tussen spioene, moordkomplotte wat selfs buitelandse selfmoordbomaanvallers insluit én ’n poging om hom met R20 miljoen om te koop om op Nkandla te gaan aftree.

Dít was Dinsdag alles deel van oudpres. Jacob Zuma se plofbare getuienis op die eerste dag van sy lang verwagte verskyning voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Veiligheid by die kommissie se sitting in Parktown, Johannesburg, was reeds van vroeg Maandagoggend vir dié dag van hoogdrama verskerp. Talle Zuma-ondersteuners, sommige van so ver as KwaZulu-Natal, is aangery om Zuma by te staan.

Hy is ook deur van sy getrouste politieke lojaliste en huidige senior ANC-leiers soos Supra Mahumapelo, voormalige Noordwes-premier, Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie, Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, Kebby Maphatsoe, president van die MK-veteranevereniging (MKMVA) en ’n ANC-LP, en Carl Niehaus, MKMVA-woordvoerder, ondersteun.

jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma het Maandagmiddag sy ondersteuners naby die Hill on Empire-gebou, waar hy voor die Zondo-kommissie na staatskaping verskyn het, in Parktown, Johannesburg, toegespreek. Regs staan Carl Niehaus, wat Zuma Maandag ondersteun het. Foto: Felix Dlangamandla

Zuma het getuig van ’n beweerde samesweringskomplot tussen plaaslike intelligensiedienste en dié van twee ander “groot lande” wat glo agter al die pogings tot dusver sit om hom “deur karaktermoord” uit die ANC verwyder.

Dit is na bewering omdat hy destyds al as ANC-hoof van intelligensie “baie inligting” oor spioene gehad het wat die ANC “geïnfiltreer” het. Hy het adv. Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van mineralebronne wat in sy getuienis vroeër aan die kommissie gesê het dat Zuma die land aan die Guptas opgeveil het, selfs daarvan beskuldig dat hy ’n apartheidspioen was.

Ramathlodi het dit Maandag ten sterkste in ’n verklaring ontken en Zuma uitgedaag om saam met hom ’n leuenverklikkertoets daaroor te ondergaan.

Zuma sê verder hy is veral die afgelope dekade as staatshoof beswadder en as die “koning van korrupsie” gebrandmerk, maar hy het nooit daarop gereageer nie.

Hy het dit ook ten sterkste ontken dat hy enigiets “onwettigs” saam met die omstrede Gupta-familie gedoen het en gesê daar was niks verkeerd met sy verhouding met hulle nie.

Zuma en die Guptas word saam as die beweerde baasbreine agter die netwerke van staatskaping, beskerming van kamerade en baantjies vir boeties beskou wat die land en ekonomie byna tot ineenstorting gebring het.

Volgens hom is alles wat tot dusver met hom gebeur het – soos die spioenasiebande-hofsaak waaroor hy steeds op korrupsieklagte tereg staan, die talle mosies van wantroue in die parlement om hom as staatshoof te verwyder, adv. Thuli Madonsela se verslag oor staatskaping teen hom, sy verwydering as staatshoof én selfs die Zondo-kommissie – deel van die “plan” teen hom.

Ek moes huis toe na Nkandla gaan en aftree. Hulle sou na my kyk en ek sou R20 miljoen kry as ek bedank.
Zuma-ondersteuners het ook Maandag se verrigting by die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping bygewoon. Foto: Felix Dlangamandla

“Daar was destyds spioene wat die ANC geïnfiltreer het. Ek is deur ander organisasies daarvan ingelig dat daar mense in die ANC en sy nasionale uitvoerende komitee was wat vir hulle (die intelligensieagentskappe) gewerk het en wat ander in beheer van die land wou hê.”

Volgens hom is Penuell Maduna, eertydse ANC-leier, adv. Bulelani Ngcuka, destydse nasionale direkteur van openbare vervolging, en nog iemand destyds tydens die Schabir Shaik-hofsaak na hom gestuur om hom te oorreed om uit die ANC-leierskap te bedank.

“Ek moes huis toe na Nkandla gaan en aftree. Hulle sou na my kyk en ek sou R20 miljoen kry as ek bedank.”

Volgens hom is hy egter nou keelvol omdat hy “tot die uiterste uitgelok is” en sal hy dit wat hy weet nou aan die groot klok hang.

Zuma het ook oor verskeie moordkomplotte teen hom getuig.

“Mense wou my vergiftig of is opdrag gegee om dit te doen. Baie pogings is aangewend om my uit te kry.”

Volgens hom is selfmoordbomaanvallers onlangs selfs uit die buiteland gestuur om hom by ’n funksie in Durban te vermoor.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, sê Zuma het met die intelligensiekomplot ’n baie slim taktiek ingespan omdat hy homself daardeur as ’n politieke slagoffer voorstel.

Volgens Kotzé buit Zuma daarmee ook ANC-lede op grondvlak se anti-Westerse sentiment verder uit in ’n poging om meer openbare simpatie vir homself te werf. – Llewellyn Prince, Philda Essop, Christiaan du Plessis en Marelize Barnard

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Zuma-Getuienis  |  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.