Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma en Zondo: 10 dinge wat jy moet weet

Oudpres. Jacob Zuma het Maandagoggend uiteindelik sy verskyning gemaak by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder voorsitterskap van adjunkhoofregter Raymond Zondo. Daarna het die een drama ná die ander ontvou.

Oudpres. Jacob Zuma die week voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.Foto: Felix Dlangamandla

Hier is tien dinge wat jy móét weet daarvan:

Zuma die slagoffer

Zuma het Maandagoggend met sy getuienis weggespring en in ’n lang toespraak gesê sy lewe word al 29 jaar lank bedreig weens ’n komplot van oud-apartheidspioene wat hom wil doodmaak. Hy het selfs getuig dat daar al pogings was om hom te vergiftig en dat daar onlangs ’n poging was om hom met ’n internasionale selfmoordbom-plan te vermoor. Hy is ’n slagoffer en selfs die Zondo-kommissie is deel van die vendetta teen hom.

“Apartheidspioen” genoem

Zuma het Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale bronne (wat in sy getuienis vroeër aan die kommissie gesê het Zuma het die land aan die Guptas opgeveil) selfs daarvan beskuldig dat hy ’n apartheidspioen was. Ramathlodi het dit ontken en Zuma uitgedaag om saam met hom ’n leuenverklikkertoets daaroor te ondergaan.

Wat van Mandela en Mbeki?

Zuma kan nie verstaan waarom oudpresidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki se vriendskappe met die Guptas nie ook ondersoek word nie. Hulle het volgens Zuma baie nouer bande met die Guptas gehad. Terwyl Zuma nog getuig het, het die Mbeki-stigting ’n verklaring uitgereik waarin Mbeki se sogenaamde noue bande met die Guptas ten sterkste ontken is.

Guptas het “nie gehelp regeer”

Zuma het op vrae oor die betrokkenheid van die Guptas by aanstellings van amptenare asook regeringsbesluite geantwoord die Guptas was glad nie by enige aanstellings betrokke nie. “Nee, die Guptas het niks te doen gehad met wat in die regering gebeur nie,” was Zuma se getuienis.

Oudpres. Jacob Zuma groet sy ondersteuners wat na sy getuienis kom luister het by die Zondo-kommissie.Foto: Felix Dlangamandla

Zuma se geheue sukkel

Dinsdag was die dag waarop Zuma se geheue hom klaarblyklik in die steek gelaat het. Hy het op vele vrae van adv. Paul Pretorius SC, ondervraer van die kommissie, geantwoord met hy kan nie onthou nie, hy weet niks, hy weet nie en hy het geen kommentaar nie.

Hy is géén sekretaresse nie

Teen Woensdag het Zuma hom erg gewip en gesê hy is ontevrede oor die manier waarop Pretorius vrae aan hom stel. Die vet was in die vuur toe Zuma in ’n tirade gesê het hy is nie ’n sekretaresse wat notules neem en alles kan onthou nie. Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê hy dink dit is regverdig om te sê as president is daar sekere dinge waarvan Zuma nie sal weet nie. Daar is egter dinge wat ’n mens kan verwag hy sal weet.

Dit is kruisondervraging, kla Zuma

Zuma se regsverteenwoordiger, adv. Muzi Sikhakhane SC, het aangevoer Zuma is met voorbedagte rade na die kommissie gebring en dat hy nou gekruisondervra word. Hy het die sitting onderbreek en aan Zuma gesê hy moet geen verdere vrae beantwoord nie. Zondo het die dag se sitting verdaag en die regspanne is gestuur om Donderdag te onderhandel oor die pad vorentoe.

Maar gaan Zuma getuig?

Die een vraag Vrydagoggend was of Zuma verder sou getuig? Die sitting het begin met ’n deurmekaarspul toe Sikhakane gesê het Zuma gaan nie verder deelneem aan die kommissie nie en dat hy “ontsteld is oor die manier waarop hy gelok is om na die kommissie te kom. Zuma is gekruisondervra terwyl daar met hom ooreengekom is dat hy nie gekruisondervra sal word nie.”

Kommissie werk volgens wet

Pretorius het uitgewys die kommissie werk binne die raamwerk van die betrokke wetgewing. Zuma wil hê die reëls moet verbreek word as dit by hom kom. Daar kan nie ’n private ooreenkoms met Zuma aangegaan word waarin onderneem word om hom sagter te behandel nie. Die kommissie het nie vooraf gesê geen vrae gaan aan Zuma gestel word nie. Dit is die mandaat van die kommissie om vrae te vra en hy sal daarmee voortgaan.

Nou is dit wag en kyk

Zondo het self ingespring en die regspanne na sy kamers ontbied. Hy was ontsteld dat hulle hom nie Donderdag gekontak het toe hulle ’n dooiepunt bereik het nie. Daarna het hy uitgekom en gesê Zuma se regspan het ingestem dat hy weer sal saamwerk. Selfs Zuma was weer aan die woord en het Zondo bedank dat hy tussenbeide getree het.

Vrydagmiddag was Zuma klaarblyklik gewillig om verder ondervra te word. Daardie datum moet nog bepaal word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.