Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma gevra om ‘giftige’ bande met Guptas te breek

Oudpres. Jacob Zuma móés die omstrede Gupta-familie se landing op die Waterkloof-lugmagbasis – vir hul nou berugte Sun City-troue – gemagtig het.

Só het adv. Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van staatsdiens en administrasie en voor dit minerale hulpbronne, Woensdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Hy het dit beskryf as “die laaste strooi” omdat die “windmakerige” Guptas daarmee ’n “heilige” plek vir Suid-Afrikaners wat hul lewe vir die land se vryheid opgeoffer het, misbruik het.

Ngoako Ramatlhodi, minister van minerale hulpbronne.

Hy het aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter, vertel hoe hy as minister van minerale hulpbronne deur Zuma afgedank is omdat hy nie Glencore se mynlisensie vir die Optimum-myn wou opskort nie.

Ook hoe hy as minister van staatsdiens en administrasie afgedank is omdat hy nie vir Mzwanele Manyi, wat later die New Age-koerant en die ANN7-nuuskanaal by die Guptas oorgeneem het, as direkteur-generaal wou aanstel nie.

Ramatlhodi, wat ook voorheen premier van Limpopo was, het getuig hoe hy ná die 2014-verkiesing as minister van minerale bronne aangestel is en onmiddellik oproepe van Duduzane Zuma begin kry het om hom en die Guptas te ontmoet.

Nadat hy aanvanklik geweier het, het hy ses maande later met Duduzane vergader.

Hy het ook onthul sy departement is aangesê om sy bestelling vir kopieë van die The New Age (TNA)-koerant te verhoog.

Daar is ook onsuksesvol probeer om hom te oorreed om aan die TNA-ontbytprogram deel te neem.

Volgens Ramatlhodi het die Guptas hom selfs as minister ontbied om ’n sosiale geleentheid by hul private woning in Kaapstad by te woon. Hy het geweier.

“My houding was dat ek nie die mense (Guptas) geken het nie. Hulle het na ons land gekom. Die laaste strooi vir my was die Waterkloof-lugmagbasis-landing.”

My houding was dat ek nie die mense (Guptas) geken het nie. Hulle het na ons land gekom. Die laaste strooi vir my was die Waterkloof-lugmagbasis-landing.

Volgens hom het hulle daarin geslaag om Zuma te oortuig om nie die troue by te woon nie.

“Hulle het nie net op Waterkloof geland nie, maar is ook deur verkeerspolisiebeamptes na Sun City begelei. Ons het aan hom gesê dit is totaal onaanvaarbaar dat ’n private vliegtuig op die lugmagbasis kon land.

“Ek het gemeen dit sou nie sonder sy medewete kon gebeur nie. Ek is ingelig die hoof van protokol in die presidensie, wat nou na Nederland herontplooi is, het ’n oproep van Nommer Een – soos wat Zuma bekend was – gekry en dat hy (Zuma) die landing gemagtig het.

“Ek het gemeen die Guptas het hiermee die president beledig. Hulle het daarna gespog hoe hulle die republiek daarmee gekaap het en dat hulle wou wys dat hulle soos presidente op Waterkloof kon land. Hulle was daarmee baie disrespekvol teenoor die president,” het Ramatlhodi gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.