Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma bedank met 'onmiddellike effek'
Pres. Jacob Zuma waai nadat hy sy bedanking aangekondig het. Foto: Deaan Vivier

Jacob Zuma het Woensdagaand knap na 22:58 uiteindelik as staatshoof bedank.

“Ek bedank met onmiddellike effek. Hoewel ek verskil met die besluit van die ANC, is ek ’n gedissiplineerde lid van die beweging.”

Zuma het in ’n regstreekse uitsending van die Uniegebou in Pretoria eers grappies gemaak, sy kenmerkende kekkellaggie gegee en toe gesê, “na weke van bespiegeling is dit nou algemene kennis dat ek as president herroep is.

“Dit is openbare kennis dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) besluit het om my te herroep as president.

“Nog voor ek kon reageer, het ek gehoor dat die ANC ’n nuwe besluit geneem het. Dat ek gedwing sal word om te bedank deur ’n mosie van wantroue.”

Ek bedank met onmiddellike effek. Hoewel ek verskil met die besluit van die ANC, is ek ’n gedissiplineerde lid van die beweging.

Zuma het toe lank uitgebrei oor sy diens aan die ANC en die land en gesê, “ek vrees geen mosie van wantroue of staat van beskuldiging nie omdat dit die wettige meganismes is vir die mense van die mooi land om die president te verwyder.”

’n Uitdagende Zuma het vroeër Woensdag gedreig dat die kwessie rondom sy herroepping as staatshoof die ANC in ’n krisis sal dompel “waaroor ek seker is my kamerade, my leiers, spyt sal wees omdat sommige mense nie daarvan sal hou nie en mag voel dat iets verkeerd is”.

Zuma het in ’n televisie-onderhoud met die SAUK gewaarsku as die ANC-leiers nie versigtig is nie, kan sy herroeping groter probleme skep as destyds met die herroeping van oudpres. Thabo Mbeki.

Zuma was destyds die hoofargitek om Mbeki te laat herroep.

“Moet nie jul gesag toepas op ’n manier wat uiteindelik probleme vir die organisasie sal skep nie,” het hy sy kamerade in die ANC gewaarsku.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, die nuwe ANC-president wat in Desember die leisels van die ANC by Zuma oorgeneem het, word dadelik die nuwe staatshoof omdat hy adjunkpresident van die land is.

Die ANC het gister voor Zuma se bedanking alles in plek gekry om te verseker dat Zuma Donderdagmiddag met ’n mosie van wantroue in die Nasionale Vergadering (NV) ontsetel word.

Ramaphosa sou dan Vrydagoggend tot president verkies én ingehuldig word. Die plan was dat hy dan Vrydagaand om 19:00 sy staatsrede sal lewer.

Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, en Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het dié aankondigings Woensdag gedoen op ’n mediakonferensie in Kaapstad ná ’n spesiale ANC-koukusvergadering.

Zuma het dit in die onderhoud duidelik gemaak dat hy nié sal bedank nie, omdat konkrete redes nooit aan hom verskaf is waarom hy dit moet doen nie.

Hy het ook volgehou hy verontagsaam nie die ANC se besluit om hom te herroep nie, maar verskil van die manier waarop die ANC-leiers hom wou verwyder.

Hy het gevoel hy word “geviktimiseer” deur Ramaphosa en die res van die ANC se topleiers omdat dit volgens hom nie ANC-beleid is dat die president van die land moet bedank om plek te maak vir die nuwe ANC-president nie.

Zuma het in die onderhoud gesê hy sou later gister ook ’n verklaring uitreik om sy standpunt te stel.

Hy het gesê hy wil ANC-lede inlig oor hoe die proses tot dusver verloop het, omdat “ek uitgebeeld word as die persoon wat die leierskap verontagsaam”.

“Ek het nog nooit in my lewe die ANC-leierskap verontagsaam nie. Ek stem net nie saam met die organisasie nie.” Niemand het hom ingelig dat hy iets verkeerd gedoen het nie. “Ek moet oortuig word. Ek het in al die vergaderings gevra wat die redes is.”

Hy dink die ANC-leiers is onregverdig.

Mthembu het gesê die parlement en die land kan nie meer in ’n staat van onsekerheid gehou word nie.

Die wantrouemosie in Zuma wat in die NV bespreek sou word en wat nou nie meer gaan plaasvind nie omdat Zuma bedank het, is dié wat die EFF vroeër ter tafel gelê het. Die ANC sou egter wysigings daaraan voorstel.

Mthembu het gesê die ANC is nie bekommerd of die stemmery oor die mosie oop of in die geheim gaan plaasvind nie. “As die ANC het ons geen bedenkinge daaroor nie. Laat dit kom!”

Sou die mosie suksesvol wees, sou Zuma moes gaan en sou die kabinet moes ontbind. Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, sou dan waarnemende president word totdat ’n nuwe president verkies word.

Met die dat Zuma toe wel bedank het, word Ramaphosa nou outomaties die nuwe president en hoef die kabinet nie te ontbind nie.

Mashatile het gesê in die ANC se gesprekke met Zuma het hy nie gevra dat sy regskoste betaal word óf vir amnestie nie. “As die ANC hanteer ons nie daardie kwessies van amnestie nie. Dit is grondwetlike en regskwessies. Daar is geen sulke besprekings nie.” – Verslagspan: Sarel van der Walt, Philda Essop, Llewellyn Prince, Selloane Khalane.

Meer oor:  Bedanking  |  Presidentskap  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.