Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma: ‘Hanekom was deel van komplot teen my’

Derek Hanekom, voormalige minister van toerisme en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), bevind hom in ’n storm van kritiek nadat die EFF onthul het hy het met die party vergader om oudpres. Jacob Zuma se ondergang te probeer bewerkstellig.

Julius Malema, EFF-leier, het die week onthul Hanekom het in 2017 met die EFF vergader en ’n lys van ANC-lede voorgelê wat die EFF se mosie van wantroue teen Zuma in die parlement sou steun.

Hanekom ontken dit egter en het in reaksie aan News24 gesê hy het met Godrich Gardee, sekretaris-generaal van die EFF, vergader, maar dat daar niks onbehoorliks aan die vergadering was nie.

Die aantyging het Zuma egter die nodige skietgoed gegee nadat hy verlede week by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping beweer het daar is reeds vir dekades ’n komplot teen hom.

Zuma het Donderdag op Twitter gesê hy is nie verbaas deur Hanekom se erkenning dat hy saam met die EFF gewerk het nie.

“Dit is deel van die plan waarna ek verwys het by die Zondo-kommissie @Derek_Hanekom is ’n bekende vyandsagent,” het Zuma getwiet.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, glo ook die bewerings deur Malema.

Hy het in ’n sterk bewoorde verklaring wat Woensdag laataand namens die ANC uitgereik is, sy ontsteltenis uitgespreek en gesê Hanekom en ander “EFF-agente” in die ANC probeer verdeeldheid in die party skep.

Magashule beweer ook die EFF het geheime agente in die ANC met die doel om die party te verdeel.

“Die ANC werk hard daaraan om sy lede te verenig, maar Derek Hanekom is in ons midde en hy probeer ’n wig tussen ANC-lede dryf,” sê Magashule.

Hy sê “dié kwaksalwer” (Hanekom) dryf sy agenda as voorsitter van die Ahmed Kathrada-stigting omdat hy nie die kapasiteit het om ’n nuwe politieke party te stig nie.

Malema het die aantygings teen Hanekom Dinsdag buite die hooggeregshof in Pretoria gemaak.

Hy het gesê Hanekom het in 2017 saam met hom en Solly Mapaila, adjunkhoofsekretaris van die SAKP, gewerk om Zuma se ondergang te probeer bewerkstellig.

Die ANC werk hard daaraan om sy lede te verenig, maar Derek Hanekom is in ons midde en hy probeer ’n wig tussen ANC-lede dryf;
Ace Magashule

Hanekom het Woensdag erken hy en Godrich Gardee, die EFF se sekretaris-generaal, het gaan koffie drink, maar Hanekom ontken dat hy ’n lys name van ANC-LP’s wat teen Zuma gekant was, aan die party oorhandig het.

Hy ontken ook aantygings dat hy gereed was om ’n splinterparty te vorm as Nkosazana Dlamini-Zuma, Zuma se eksvrou, op die Nasrec-konferensie die wedloop om die leierskap van die ANC teen Ramaphosa sou wen.

Die MK-veteranevereniging (MKMVA), wat van Zuma se grootste ondersteuners is, het intussen ’n beroep op die ANC gedoen om Hanekom uit die party te skors.

“Die MKMVA doen ’n beroep op die ANC-NUK om hom permanent te skors op gronde van Hanekom se erkenning. Dit moet op die volgende vergadering van die NUK gedoen word wat môre begin,” sê Carl Niehaus, MKMVA-woordvoerder.

Zuma se seun Edward het ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi en ’n beroep op die ANC gedoen om “streng teen Hanekom op te tree”.

“Dit is dus my gebed dat die NUK streng optree teen Hanekom en al die ander wat betrokke is by sulke verraderlike aksies,” sê hy.

Netwerk24 het Hanekom om kommentaar genader. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Komplot  |  Ace Magashule  |  Derek Hanekom  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.