Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
JZ sê glo: 'Sê my reguit of ek moet bedank'
Pres Jacob Zuma

Pres. Jacob Zuma het die naweek aangebied om as ANC-president te bedank, het die Mail & Guardian Dinsdag op sy webtuiste berig.

Dié koerant haal lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) anoniem aan.

“Hy (Zuma) het vir ons gesê ons moet vir hom reguit sê of ons wil hê hy moet bedank, eerder as om hom in die rug te steek,” het ’n NUK-lid aan die M&G gesê.

Die NUK-lid skaar hom by Gwede Mantashe, ANC-sekeretaris-generaal, en die faksie wat glo van Zuma ontslae wil raak.

Zuma het dit glo Sondag gesê op die laaste dag van die NUK-vergadering waar die Gupta-familie se invloed bespreek is ná verlede week se skokonthullings oor hoe die Guptas glo namens die president kabinetsposte uitdeel.

Volgens twee senior ANC-leiers, wat die naweek se vergadering bygewoon het, het Zuma gesê hy is bewus daarvan dat sekere mense in die ANC se topleierskap hom as president wil uitwerk, het die M&G berig.

Die koerant berig die Mantashe-faksie was in beheer van die vergadering, maar het doelbewus besluit om nie druk uit te oefen om Zuma te herroep nie, aangesien dit ’n negatiewe impak op die ANC kan hê so kort voor vanjaar se plaaslike verkiesings.

As julle my wil herroep, gaan voort. Ek sal opsy staan en na my (ANC)-tak toe gaan

“Stel jou voor wat dit kon doen aan die beeld van die ANC? Dit sou onverantwoordelik gewees het van ons om dit te doen,” het die NUK-lid aan die M&G gesê.

In ’n soorgelyke berig het die Sowetan Dinsdag berig Zuma het die NUK “uitgedaag” om hom te herroep as dit hul wens is.

“As julle my wil herroep, gaan voort. Ek sal opsy staan en na my (ANC)-tak toe gaan,” het Zuma volgens ’n NUK-lid gesê.

Dié opmerking is glo aangevuur deur sy selfvertroue omdat hy geweet het die grootste deel van die NUK staan bankvas agter hom.

Volgens die Sowetan het Zuma die Gupta-familie verdedig en sommige ANC-leiers daarvan beskuldig dat hulle ook deur groot-sake beheer word.

In ’n klaarblyklike verwysing na adj.pres. Cyril Ramaphosa het Zuma aan die NUK gesê nadat hy Des van Rooyen in Desember as finansminister aangestel het, het die sakeman Johann Rupert uit Londen na Suid-Afrika gevlieg om met ’n senior ANC-leier te vergader en te eis dat dié aanstelling omgekeer word.

Die ANC het ná die NUK-vergadering hul vertroue in Zuma se leierskap herbevestig en gesê enigiemand met inligting oor inmenging van die Gupta-familie moet dit by Mantashe aanmeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.