Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Zuma hét ingemeng’

Oudpres. Jacob Zuma was sonder twyfel ’n voorbok in die dekade lange proses van staatskaping, blyk uit Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se uitgelekte verklaring.

Gordhan se verklaring aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het uitgelek en is voortydig in die media bekendgemaak.

Gordhan het die verklaring van 68 bladsye op 11 Oktober onderteken. Hy moet Donderdag voor die kommissie verskyn.

Zuma het luidens die gelekte verklaring onverwags en direk ingemeng in staatsooreenkomste en -projekte – onder meer die kernkragprojek, PetroSA se poging om ’n deel van Engen te koop, en die stigting van Denel Asia (’n Gupta-beheerde maatskappy).

Gordhan skryf Zuma het “diepgaande belangstelling” in “gewone organisatoriese sake” getoon.

Sy persoonlike belangstelling in sekere projekte “kan op ’n patroon dui wat ’n mens kan help om staatskaping te verstaan”.

Hy wys die kernooreenkoms met Rusland uit as een projek waaroor Zuma dit baie duidelik gestel het hy wil hê dit moet voortgaan.

Toe PetroSA planne begin beraam om die Maleisiese maatskappy Petronas se aandeel in Engen te koop, het dieselfde gebeur. Dit het wel deur die mat geval, maar volgens Gordhan wou dit voorkom of daar ’n “teësinnigheid teen en selfs ’n vermyding van” behoorlike kontroleringsprosesse was.

Die verklaring beskryf ook hoe Zuma Gordhan, toe nog minister van finansies, in 2015 gebel het om hom daarvan te oortuig om nuwe Airbus-vliegtuie vir die SAL aan te koop.

Zuma het hom gevra of dit moontlik is om te doen wat Dudu Myeni, voorsitter van die SAL en vriendin van Zuma, wou hê (’n peperduur ooreenkoms met Airbus).

Hy wou nie bes gee nie. Nhlanhla Nene, wat tussen Gordhan se twee termyne minister van finansies was, ook nie. Die SAL het uiteindelik die vliegtuie gehuur.

Luidens Gordhan se verklaring het hy die Guptas amptelik net een keer ontmoet. Hy was op drie ander geleenthede in kontak met die omstrede familie – twee keer by openbare geleenthede en een keer op ’n sakevergadering.

Laasgenoemde is deur Tony Gupta gereël waarop hy ’n Indiese sakeman aan Gordhan voorgestel het wat glo ’n aandeel in MTN wou koop. Niks het daarvan gekom nie.

Die belangrikste interaksie was op ’n vergadering in die presiden­siële gastehuis in Pretoria waarheen Zuma hom genooi het. Hy het Ajay Gupta as sy “vriend” voorgestel en gesê Ajay het kundigheid in kleinsake en finansies.

“Ons het ’n paar minute oor ditjies en datjies gepraat, maar ek kan nie die besonderhede onthou van wat ’n baie oppervlakkige gesprek was nie.”

Ajay het die vertrek daarna verlaat en hy en Zuma het vergader.

Volgens hom was hy nooit by die Guptas se huis in Saxonwold, Johannesburg, nie en het hy ’n uitnodiging na die Gupta-troue in 2013 by Sun City van die hand gewys.

Die EFF sê in reaksie hy neem kennis van die feit dat Gordhan erken hy het die Guptas wel ontmoet. Die party bestempel hom steeds as ’n medewerker van die familie omdat staatskaping “in sy bewind as minister van finansies ’n vastrapplek gekry het”.

Die presidensie het gistermiddag gereageer deur te sê dit is “nie ’n misdaad om iemand te ontmoet nie”.

“Die staatskapingskommissie is ingestel om juis die aard van daar-die verbintenisse te ondersoek. Die president gaan die kommissie nou kans gee om met sy werk voort te gaan.”

Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, sê dit is vir hulle “onverklaarbaar” hoe sy verklaring aan die media uitgelek is. – News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.