Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma ‘het nie te kwader trou opgetree oor OB-verslag’

Die hooggeregshof in Pretoria het in 2017 sonder enige goeie gronde aanvaar dat hy te kwader trou optree omdat hy in ’n verslag van adv. Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer (OB), oor staatskaping, geïmpliseer word.

So sê oudpres. Jacob Zuma in stukke wat by die konstitusionele hof ingedien is.

Hy vra dié hof toestemming om te appelleer teen ’n uitspraak in die hooggeregshof dat hy verantwoordelik is vir die regskoste van miljoene rande ná sy mislukte poging om ’n 2016-verslag van Madonsela hieroor tersyde te laat stel.

“Die redenasie dat ek nie voor ’n kommissie van ondersoek wil verskyn nie omdat ek nie my naam in ere wil herstel nie, is verstommend.

“Dit skep die indruk dat ek skuldig is en nie my naam in ere wil herstel nie. Dit is verkeerd.”

Madonsela het in haar verslag regstellende stappe voorgestel wat insluit Zuma moes as president binne 30 dae ’n kommissie van ondersoek na staatskaping aanstel, gelei deur ’n regter wat deur die hoofregter aangewys word.

Die redenasie dat ek nie voor ’n kommissie van ondersoek wil verskyn nie omdat ek nie my naam in ere wil herstel nie, is verstommend.

Zuma wou hê dié aanbeveling en aanbevelings oor die magte van die kommissie moes nietig verklaar word.

Die oudpresident se mislukte aansoek het uiteindelik gelei tot die daarstelling van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping wat deur adjunkhoofregter Raymond Zondo gelei word.

Die hooggeregshof het dié beslissing in Desember 2017 gemaak toe Zuma nog president was. Zuma het twee maande later as president bedank nadat die nasionale uitvoerende komitee van die ANC hom herroep het.

Nadat die hooggeregshof in Pretoria sy aansoek van die hand gewys het, het Zuma hom tot die appèlhof in Bloemfontein gewend. Sy appèlaansoek is van die hand gewys.

Zuma voer in die konstitusionele hof aan die regstellende stappe wat Madonsela voorgestel het, het diepgaande grondwetlike gevolge.

Hy voer aan kragtens die Grondwet is die president die enigste wat ’n kommissie van ondersoek, in samewerking met die hoofregter, kan aanstel.

Zuma sê die OB was egter van mening dat hy gediskwalifiseer is om dit te doen omdat hyself in die verslag geïmpliseer is. Daarom sou daar ’n ernstige konflik van belange gewees het as hyself die voorsitter van die kommissie sou aanwys.

Ekself was nie gekant teen die aanstelling van ’n kommissie van ondersoek nie, maar die bevindinge en die opdrag van die OB het my bekommer omdat ek van mening was dat dit grondwetlike onsekerheid tot gevolg sou hê.

Die OB het gemeen dit sou beter wees as die hoofregter dit doen.

Zuma sê hy is geadviseer dat dit ongrondwetlik was omdat die OB geen grondwetlike gesag het om grondwetlike magte wat aan die kabinet en die regterlike gesag toegewys is, her toe te wys nie.

“Ekself was nie gekant teen die aanstelling van ’n kommissie van ondersoek nie, maar die bevindinge en die opdrag van die OB het my bekommer omdat ek van mening was dat dit grondwetlike onsekerheid tot gevolg sou hê.”

Dit is waarom hy hom tot die hooggeregshof gewend het om te vra dat die OB se verslag op hersiening geneem moet word.

Die hof het dit verwerp.

Zuma sê voordat die hof uitspraak gelewer het, het hy in die parlement aangedui hy is van plan om ’n kommissie van ondersoek aan te stel na die kwessies wat Madonsela in haar verslag geopper het. Hy het dit ook op vergaderings van die ANC gesê en die party het dit in verskeie verklarings ondersteun.

Zuma sê nadat hy as president van die land bedank het, het pres. Cyril Ramaphosa, sy opvolger, die aansoek om te appelleer sonder sy medewete teruggetrek.

Dit het tot gevolg gehad dat die hof hom in sy persoonlike hoedanigheid vir die koste verantwoordelik gehou het, al het hy die aansoek nie in sy persoonlike hoedanigheid ingedien nie.

Dit is onregverdig en die hooggeregshof het ’n fout begaan deur dit te doen, voer hy aan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.