Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma het nooit ‘komplotte, karaktermoord’ aangemeld

Oudpres. Jacob Zuma het dit nooit onder die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) se aandag gebring dat daar oor ’n tydperk van drie dekades glo ’n komplot deur plaaslike en internasionale spioene teen hom gevoer is nie.

Dit was Donderdag Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, se antwoord toe sy by die parlement deur joernaliste gevra is of Zuma ooit klagte daaroor by haar of haar voorgangers ingedien het.

Ayanda DlodloFoto: GCIS

Dit kom nadat Zuma die afgelope week voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping beweer het dat drie verskillende intelligensieagentskappe glo karaktermoord teenoor hom gepleeg het en dat selfs buitelandse selfmoordbomaanvallers deel was van verskeie sluipmoordaanslae op sy lewe.

Zuma, wat Vrydag weer voor die kommissie verskyn, het ook beweer dat spioene die ANC binnegedring het.

Dlodlo het in reaksie op die vrae gesê dat Zuma geen klagte hieroor ingedien het nie. “Ek is ook nie bewus daarvan dat hy dit ooit met my voorgangers bespreek het nie,” het sy gesê.

“Dit is egter kwessies wat deur die Zondo-kommissie van ondersoek aangehoor word. Die kommissie moet eers sy werk afhandel en sy verslag daaroor aan die president gee.

“As enigeen wat voor die kommissie verskyn ons egter met sulke klagte nader, sal ons dit ondersoek. Daar was egter nie tot dusver enige interaksie met ons hieroor nie.”

Intussen het dr. Llewellyn Curlewis, regskenner van die Universiteit van Pretoria, gesê dat Zuma en sy regspan met hul optrede voor die kommissie vandeesweek die sogenaamde Stalingrad-regstrategie, oftewel ’n vertragingstaktiek, gebruik het.

“Dit is egter nie die eerste keer dat hy dit doen nie soos met die hofsake teen hom gesien kan word. Dit lyk asof hy ook alles in sy vermoë doen om lastige vrae te vermy en om verantwoordelikheid vry te spring.

“Op die einde van die dag moet die Zondo-kommissie egter ’n besluit oor die geloofwaardigheid van sy getuienis neem. Dit kan egter net deur behoorlike kruisondervraging, waarteen hy tans kapsie maak, gedoen word.

“Hy het egter die reg om homself nie te inkrimineer nie. Sy plan was egter van die begin af om vir tyd te speel en as dit werk, sal niemand bereid wees om hom as ou man lank tronk toe te stuur nie. Ás hy eendag skuldig bevind word,” het Curlewis bygevoeg.

Dr. Zwelinzima Ndevu, ’n politieke ontleder van die Universiteit Stellenbosch, meen Zuma se bewerings voor die kommissie dat die ANC deur spioene binnegedring is, gaan ’n enorme impak op die regerende party hê.

“Dit gaan die verskillende faksies net verder verdeel en pres. Cyril Ramaphosa se pogings om die ANC te verenig ’n erge knou toedien.”

Ralph Mathekga, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het bygevoeg dat veral die Zuma-faksie sy spioenasie-beweringe vir eie gewin gaan probeer uitbuit.

“Ace Magashule (ANC-sekretaris-generaal en Zuma-ondersteuner) het reeds ’n kommissie van ondersoek na Zuma se spioenasie-bewerings aangevra.

“As dit gebeur, gaan hulle ook probeer om die Zondo-kommissie se geloofwaardigheid in twyfel te trek.

“Daarom is beslissende leierskap in die ANC in die belang van die land nou nodig. Daar is tans geen samehorigheid in die party nie,” het Mathekga gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.