Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma 'hét van Gupta-landing op Waterkloof geweet'
Christine Anderson
Lt.kol. Christine Anderson getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie in Johannesburg. Foto: Skermgreep

Lt.kol. Christine Anderson, vir dekades werksaam by die lugmag totdat sy geteiken is as dié persoon by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria wat die Gupta-vliegtuig se landing deurgevoer het, het haar dag van waarheid gekry – én sy het haar sê gesê.

Anderson het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig oor hoe daar al vele kere aan haar gesê is dat oudpres. Jacob Zuma sélf voor die tyd geweet van dié Gupta-vlug.

Sy het getuig Bruce Koloane, oudhoof van staatsprotokol wat as ambassadeur in Nederland teruggeroep is nadat sy leuens verlede jaar voor die Zondo-kommissie op die lappe gekom het, het voortdurend die president se naam gebruik wanneer hy na die reëlings vir die vlug verwys het.

“Die president is bewus van die vlug . . . Hy weet van die vlug . . . Ek was pas in ’n vergadering met die president en hy vra of alles in orde is met die reëlings,” het Koloane voortdurend aan Anderson gesê.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het uitgewys Koloane het getuig dat hy druk op amptenare uitgeoefen het om die vlug toe te laat, en het Anderson gevra of dit met haar ook die geval was.

Sy het geantwoord dat dit aan die einde wel so was.

Anderson het getuig niemand het nog ooit vantevore met enige beplanningsvergadering genoem dat die president bewus is van die besoek nie.

Sy het getuig dit is wat hierdie geval ook uniek maak.

Bruce Koloane, Zondo
Bruce Koloane

Anderson het getuig Koloane het haar op 18 April 2013 gebel en gesê hy was pas in ’n vergadering met die president en die president vra of al die reëlings gereed is vir die vlug wat gaan land.

Anderson het gesê met die manier hoe Koloane telkens daarna verwys het dat die president die vlug goedgekeur het, het sy nie gedink om dit te bevraagteken nie.

Uiteindelik is Koloane deur Zuma beloon met ’n ambassadeurspos in Nederland (selfs al het Zuma geweet van Koloane se aandeel in die Waterkloof-skandaal). Dít terwyl Anderson haar moes staal teen aanklagte en moontlike vervolging, totdat die saak teen haar uiteindelik laat vaar is.

Anderson het getuig dit was nie net die Guptas se vliegtuig vol bruilofsgaste wat op die lugmagbasis geland het nie – daar was ook twee vliegtuie en ses helikopters wat die gaste moes kom oplaai om hulle na Sun City te neem.

gupta-troue
Vega Gupta, die bruid, met haar gevolg by The Palace of the Lost City. Foto: Natal Witness

Anderson het getuig die dag toe die Guptas se 200 gaste by die vliegtuig uitgeklim het, was ’n baie besige dag.

Eerstens was daar die verwagting dat die belangrike gaste, wat Indiese ministers sou insluit, eerste by die vliegtuig se trappe sou afklim. Hulle is nooit uitgewys nie.

Toe kom daar slegs gaste met nie een van hulle wat as ’n minister uitgeken is nie. Daar moes tee en koffie aan hulle bedien word en op aandrang van Koloane was daar ook ’n kulturele dansgroep wat die gaste verwelkom het.

Dit was nie my werk om hieroor ’n geraas te maak nie.
Lt.kol. Christine Anderson

Anderson het getuig dit het in ’n stadium gevoel die lugmagbasis is gekaap deur die Indiese afvaardiging.

Zondo het gevra of daar nie ’n bepaalde prosedure is indien ’n minister, adjunkpresident of president van ’n ander land aankom nie.

Anderson het geantwoord die protokol is dat die belangrikste persoon eerste by die vliegtuig uitstap. Daar is dan ’n amptenaar wat die belangrikste persoon van die vliegtuig “groet en ontmoet,” maar in dié geval is daar niemand uitgewys wat ’n minister of so ’n belangrike persoon was nie. Dit terwyl Koloane gesê het daar sal ministers of ’n minister op die vliegtuig wees – daarom is dit juis beskou as ’n amptelike vlug wat by die lugmagbasis mag land.

“Ek het in ’n sekere stadium besef dit is nie wat moes gebeur het nie. Dit was nie my werk om hieroor ’n geraas te maak nie,” volgens Anderson.

Die gaste is na die sitkamers geneem en hulle het tee en koffie gedrink. Sy het hul paspoorte ingesamel en saam met binnelandse sake se amptenaar begin om die visums vir die gaste te prosesseer.

Van die gaste is met die helikopters en vliegtuie na Sun City geneem en ander is met voertuie vanaf die lugmagbasis vervoer.

Wat haar groot prioriteit was, was om die basis se werksaamhede te hanteer, want Zuma se vliegtuig het ook gereeld daar gestaan. Hy sou óók later die dag na Sun City vlieg. Dié vlugreëlings is egter verander en hy is toe na die Demokratiese Republiek van die Kongo toe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.