Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma het vir Zondo gelieg, getuig amptenaar

Oudpres. Jacob Zuma het vir die Zondo-kommissie van ondersoek gelieg.

So het Brent Simons, die afgelope 18 jaar ’n staatsamptenaar en onder meer woordvoerder van wyle minister Collins Chabane toe hy die minister in die presidensie was, Maandag voor die kommissie getuig.

Oudpres. Jacob Zuma in Julie by die Zondo-kommissie.Foto: Felix Dlangamandla

Simons sê hy was teleurgesteld daarin dat Zuma in Julie voor die Zondo-kommissie gelieg het en getuig het dat hy nié die opdrag gegee het dat Chabane van Themba Maseko as direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en- inligtingstelsel (GCIS) ontslae moet raak nie.

Simons het getuig: “Ja, mense kan nou sê dat Chabane dood is en nie hier is om vir homself te getuig nie, maar daar was amptenare by hom wat gehoor het wat aangaan. Hulle kan getuig Chabane was baie ontsteld dat Zuma aan hom die opdrag gegee het om Maseko uit sy pos by die GCIS te skuif.”

Volgens Simons het hy en Chabane ’n goeie verhouding gehad. Hulle het ure saam tyd deurgebring wanneer Chabane onder meer verkies het om nie saam met die polisie na vergaderings oor die land heen te ry nie, maar eerder saam met Simons in sy motor wou ry.

Op ’n besoek aan Sydney, Australië, het Chabane aan Simons genoem hoe Zuma het hom opdrag gegee om Maseko te verwyder.

“Zuma het in daardie oproep direk aan Chabane gesê Maseko moet verwyder word,” het Simons getuig, en gesê wat verder ontstellend was, was dat Zuma ook ’n opdrag aan Chabane gegee het dat Mzwanele (Jimmy) Manyi vir Maseko moet vervang.

Simons kon slegs oor die een aspek getuig en sal later na die kommissie moet terugkeer om verdere getuienis te lewer omdat mense wat in sy getuienis geïmpliseer kan word, onder andere familielede van Zuma, nie betyds daarvan in kennis gestel is nie.

Ná Simons se getuienis het Abednigo Hlungwani, van 15 Maart 2010 tot met Chabane se afsterwe op 15 Maart 2015 sy private sekretaris, ook voor die kommissie getuig.

Hlungwani het getuig oor ’n oproep wat hy in Januarie 2011 van ’n assistent van Zuma op sy selfoon ontvang het.

Aan Hlungwani is gesê Zuma wil met Chabane praat. Toe sy selfoon ’n tweede keer ná dié oproep lui, het Hlungwani sy selfoon aan Chabane, wat in ’n aangrensende kantoor gesit het, oorhandig.

Volgens Hlungwani het Chabane ’n spesifieke manier van praat gehad en kon jy daarom presies weet waar jy met hom staan.

Chabane het later die dag ná die oproep gesê: “Ei, ons moet Themba (Maseko) skuif.”

Hlungwani het getuig die manier waarop Chabane gesê het Maseko moet geskuif word, het ná die tyd sin gemaak toe die gebeure ontvou het.

Volgens Hlungwani is hy nie ’n gewillige getuie voor die kommissie nie, maar omdat adjunkhoofregter Raymond Zondo hom as getuie geroep het, het hy wel besluit om dit te doen.

Hlungwani het gesê hy wou nie getuig nie uit respek vir die afgestorwe Chabane, asook sy respek vir Zuma.

Volgens Hlungwani het hy ’n vreemde oproep en daarna ’n geskrewe boodskap op sy selfoon gekry dat hy niks moet sê oor die verwydering van Maseko nie.

Hy het tot Maandag voor die kommissie niks daaroor gesê nie en het dit slegs aan sy broer en neef genoem omdat hy dit nie ernstig opgeneem het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.