Oudpres. Jacob Zuma moet so gou moontlik vir sy “skandalige” gedrag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping in hegtenis geneem en aangekla word omdat hy “agter tralies hoort”.
Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, het só gereageer op adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter, se opdrag Maandag aan prof. Itumeleng Mosala, sekretaris van die kommissie, om ’n strafregtelike klag teen Zuma by die polisie in te dien.
Zuma se ondersteuners het op hul beurt met “erge gevolge” gedreig indien ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik sou word.
Zondo se opdrag kom nadat Zuma Donderdag ’n sitting van die kommissie in die teepouse verlaat het, hoewel hy gedagvaar is om heelweek verlede week te getuig.
Zuma was ontevrede omdat Zondo sy aansoek van die hand gewys het om homself as voorsitter van die kommissie te onttrek.

Oudpres. Jacob Zuma Foto: DEAAN VIVIER
Die kommissie gaan ook ’n nuwe dagvaarding uitreik oor wanneer Zuma weer voor die kommissie moet verskyn.
Behalwe bogenoemde, gaan die kommissie dringend ’n bevel van die konstitusionele hof aanvra wat Zuma sal dwing om ingevolge die nuwe dagvaarding voor die kommissie te verskyn.
Zondo het Maandag bygevoeg Zuma se optrede raak die integriteit van die kommissie, die oppergesag van die reg en openbare aanspreeklikheid.
Boonop kan sy optrede ’n boodskap uitstuur dat getuies wat nie gemaklik is om voor die kommissie te verskyn nie, kan “kom en gaan nes hulle wil”.
Op ’n vraag oor wanneer presies die strafregtelike klag teen Zuma ingedien sal word, het eerw. Mbuyiselo Stemela, woordvoerder van die kommissie, Maandagmiddag gesê Zondo het ’n dringende opdrag gegee. Stemela kon egter nie ’n presiese tydsraamwerk verskaf nie.
Intussen het Carl Niehaus, woordvoerder van die Gauteng RET President Zuma-ondersteunersgroep, Maandag gesê “Zondo het nou ’n vlak van wraakgierigheid jeens Zuma bereik. Ons glo pres. (sic) Zuma se regspan sal behoorlik op die jongste verwikkelinge reageer.
“Ons waarsku net dat enige lasbrief vir pres. (sic) Zuma se inhegtenisneming onaanvaarbaar sal wees. Ons sal so sterk daarop reageer dat dit nie goed sal wees vir Zondo, die kommissie of die land nie.”
Bloem het voorts gesê Zuma “was nooit geskik om president te wees nie” en dat hulle as voormalige ANC-lede in 2007 gewaarsku het dat hy nie tot ANC-president verkies moes word nie omdat “dit die einde van Suid-Afrika sou beteken”.
Volgens Bloem moet Zuma vinnig in hegtenis geneem en aangekla word omdat hy “ ’n baie slegte invloed op die samelewing is en agter tralies hoort”.
Intussen het dr. Llewellyn Curlewis, ’n regskenner by die Universiteit van Pretoria, gesê Zondo het met sy besluite Maandag die “veiliger en versigtige uitweg” gekies, want “hy is self bevoeg om ’n lasbrief vir Zuma uit te reik en hom te ondersoek”.
Volgens Curlewis kan die kommissie Zuma egter weer dagvaar.
“As hy weer nie verskyn nie, kan die kommissie hom laat in hegtenis neem en aanhou totdat hy klaar getuig het. Dit is wat met ander gebeur wat dagvaardings minag.”
Lawson Naidoo, ’n grondwetkenner van die organisasie Casac, het gesê dit is “vreemd” dat Zondo ook die konstitusionele hof wil nader om Zuma te dwing, “maar dat daar vir daardie hofaansoek gewag moet word om te sien wat presies die kommissie wil bereik”.
Dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, het gesê hoewel Zondo Maandag sy voet teen Zuma neergesit het, “moes hy dit al baie vroeër gedoen het. Alles wat Zuma doen, is om sy getuienis voor die kommissie te vertraag omdat hy nie aanspreeklikheid vir staatskaping wil aanvaar nie. Hy dink ook hy is bo die reg verhewe.”