SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Politiek
Zuma ‘is in ’n hoek’
Pres. Jacob Zuma. Foto: AP

Pres. Jacob Zuma se herroeping as staatspresident is ’n mylpaal vir die ANC wat verreikende implikasies inhou, het politieke kenners Dinsdag gesê.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê die ANC se besluit om van een van sy prominente leiers ontslae te raak, moet ’n baie moeilike en pynlike proses vir die party gewees het.

“Die implikasies is taamlik verreikend, maar ek verwag nie dat Zuma maklik môre (Woensdag) sal bedank nie – dit is nie sy styl nie,” sê Duvenhage.

Hy glo Zuma sal eers wil sien wat gebeur in die parlement. “My verwagting is dat die ANC ’n mosie van wantroue in die parlement ter tafel gaan lê. As die meerderheid die mosie steun, moet sowel die president as die adjunkpresident en die kabinet bedank, waarna die speaker van die nasionale vergadering vir 30 dae as waarnemende president oorneem.”

Ramaphosa sal ná die 30 dae in ’n posisie wees om ’n kabinet aan te wys, sê Duvenhage. “Ek verwag groot skuiwe. As ons kyk na ’n adjunkpresident is die verwagting dat dit dalk Naledi Pandor (minister van wetenskap en tegnologie) of Lindiwe Sisulu (minister van menslike nedersettings) kan wees. As hy die Zulu-groepering gelukkig wil hou, kan hy op iemand soos Senzo Mchunu, voormalige premier van KwaZulu-Natal, besluit.”

Duvenhage verwag ook skuiwe in die kabinet in portefeuljes soos staatsveiligheid, polisie, kommunikasie en energie.

Lees ook:

Zuma: Min blou ligte in die uur voor middernag

Ace: Sy antwoorde ‘vaag en teenstrydig’ 

Prof. Somadoda Fikeni

Anders as Duvenhage, verwag prof. Somadoda Fikeni, politieke ontleder, dat Zuma heel waarskynlik Woensdag sy bedanking sal aankondig.

“Hy sal afstaan, maar ons sal tussen die lyne moet lees of hy dit grasieus of teësinnig sal doen. Hy kan dalk ook sê hy staan nie af as staatshoof nie en dat die parlement moet stem. Dit kan ’n groot verleentheid vir die ANC veroorsaak.”

Fikeni sê as Zuma bedank, sal sy aankondiging baie sensitief wees. “Die ANC kan hom dalk in breë trekke adviseer om nie omstrede goed te sê wat dalk sy brûe kan verbrand nie.”

Dit was te verwagte dat die opposisiepartye Zuma se vertrek sou verwelkom. “Maar terselfdertyd het dieselfde partye ’n dilemma omdat baie hul veldtogte om Zuma gebou het, maar nou het ons ’n ANC wat self die proses teen korrupsie gaan lei . . . Ons het reeds ’n voorsmakie gehad van hoe ’n moontlike Ramaphosa-presidentskap daar gaan uitsien.”

Prof. Richard Calland, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, sê niks is duidelik nie weens die onsekerheid of Zuma sy bedanking Woensdag gaan aankondig.

“Hy is nou regtig in ’n hoek. Die besluit deur die NUK is duidelik – hulle wil hê hy moet sonder enige verwyl gaan. Daar is geen omdraaikans nie – hy kan dit óf aanvaar óf hy kan baklei en weier om te bedank en die ANC dwing  ’n mosie van wantroue in een van sy eie leiers in die parlement ter tafel te lê, iets wat die party nog nooit voorheen gedoen het nie,” sê Calland.

Meer oor:  Zuma  |  Jacob  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.