Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma jr. en sr. laat nog poppe dans

Terwyl oudpres. Jacob Zuma en die “premiersliga” van ’n sameswering teen pres. Cyril Rama­phosa verdink word, het Duduzane Zuma, een van die kern­figure in die Gupta-familie se staatskaping, gesê hy wil nou voor die Zondo-kommissie getuig nadat hy vroeër daarteen vasgeskop het.

Zuma jr. se regsverteenwoordiger sê in ’n brief aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Zuma jr. wil sy weergawe gee van die gebeure waaroor Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, getuig het. Hy wil Jonas ook onder kruisverhoor neem.

Jonas het getuig Zuma jr. was by toe die Guptas hom wou omkoop om minister van finansies te word.

Oudpres. Jacob Zuma en sy seun Duduzane.Foto: deaan vivier

Regter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het gesê hy sal Donderdag uitspraak lewer oor versoeke van diegene wie se name genoem is om ge­tuies te kruisondervra. Hy sal Zuma jr. se versoek saam met dié van ander getuies oorweeg.

Jan Gilliland, ’n amptenaar van die nasionale tesourie, het gister bewyse gelewer van ’n geldspoor van R260 miljoen van die regering se kommunikasiediens na die Guptas se koerant The New Age en Infinity Media tussen 2011 en 2018.

Hy het ook onthul dat die Vrystaatse regering in dié tyd R79,3 miljoen – meer as enige ander provinsiale regering – aan advertensies in publikasies van die Guptas bestee het. Die KwaZulu-Natalse regering het die tweede meeste (R25 miljoen) daaraan bestee en Noordwes die derde meeste (R23,8 miljoen).

Levy Ndou, politieke ontleder, sê dit verbaas hom nie dat dié drie provinsies soveel geld na die Guptas laat vloei het nie omdat hulle gelei is deur Zuma sr. se ondersteuners, soos Supra Mahumapelo en Ace Magashule.

“Dit is die mense wat aan die hoof staan van pogings om terug te veg teen pres. Cyril Ramaphosa.”

Neeshan Balton, uitvoerende direkteur van die Ahmed Kathrada-stigting, het gister in ’n verklaring uitgevaar teen die vermetelheid en arrogansie van die Gupta-familie om voorkeurbehandeling van die Zondo-kommissie te verwag.

Die Guptas wil getuies kruisondervra, maar weier om na Suid-Afrika terug te keer om kruisondervra te word, “terwyl hulle sterk geïmpliseer word by die proses van staatskaping”.

Hulle wil voordeel trek uit die regsproses voor die kommissie, maar wil terselfdertyd van die gereg vlug, sê hy in die verklaring. “Is hulle bereid om die kommissie se aanbevelings te aanvaar terwyl hulle in weelde in Dubai sit?”

Balton het getuies wat reeds voor die kommissie verskyn het, soos Jonas, Themba Maseko, Phumla Williams en Vytjie Mentor, geloof omdat hulle help om lig te werp op die mate waarin die staat gekaap is.

“Ons hoop ander staatsamptenare wat inligting oor die werking van die skadustaat het, sal ook getuig.” 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.