Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma kan nie verskyn oor ‘hoogs geheime siekte’
Oudpres. Jacob Zuma toe hy verlede jaar in Julie voor die Zondo-kommissie begin het met sy getuienis. Foto: Felix Dlangamandla

Oudpres. Jacob Zuma ly aan ’n geheime siekte wat hom kortwiek om vrae te beantwoord oor staatskaping toe hy Nommer Een in die land was.

Zuma se regsverteenwoordigers het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aangevoer dat hy nié die week sal kan getuig nie en ook nie tot Maart vanjaar beskikbaar sal wees nie.

Hy moet mediese prosedures in die buiteland en in Suid-Afrika ondergaan, maar die aard van sy mediese toestand word só geheim gehou dat selfs sy dokters slegs bereid is om agter toe deure aan adjunkhoofregter Raymond Zondo te verduidelik wat fout is met Zuma.

Adv. Thabani Masuku SC, een van Zuma se regsverteenwoordigers, het Maandag by die kommissie kapsie gemaak daarteen dat sy kliënt so “antagonisties” behandel word. Hy het gekla dit is onnodig dat die kommissie se regspan wil voortgaan om ’n aansoek voor Zondo te bring om ’n bevel te maak wat Zuma sal verplig om op ’n latere datum te getuig.

Masuku het gesê dit is onaanvaarbaar dat Zuma se goeie woord nie hiervoor aanvaar kan word nie.

Adv. Paul Pretorius SC het gesê Zuma se regspan het eers Maandag om 16:00 in ’n verklaring genoem dat Zuma siek is en nie beskikbaar sal wees om te getuig nie.

Die kommissie het verlede week ’n mediaverklaring uitgereik dat die kommissie se regspan Maandag aansoek sou doen om ’n dagvaarding uit te reik dat Zuma tussen 27 Januarie en 31 Januarie móét getuig.

Masuku het aangevoer Zuma word blootgestel aan politieke aanvalle omdat daar so ’n groot belangstelling is in sy verskyning voor die kommissie. Die kommissie sorg dat mense wat kom getuig nie onder soveel politieke druk geplaas word nie.

Dit is onregverdig dat die dreigement van moontlike inhegtenisneming oor sy kop hang, het Masuku aangevoer.

Adv. Thabani Masuku SC het Maandag by die kommissie kapsie gemaak daarteen dat sy kliënt so “antagonisties” behandel word.

Hy het uitgevaar oor die mediaverklaring wat uitgereik is dat daar Maandag ’n aansoek sal wees om Zuma te dagvaar. Masuku het gesê dit blyk asof dit nodig is om Zuma te dagvaar, al is hy siek.

Zondo het hierop geantwoord hý het opdrag gegee dat die mediaverklaring uitgereik word en die inhoud daarvan is neutraal en nié aanvallend teenoor Zuma nie.

Zondo het met verwysing na Zuma se mediese toestand gesê die kommissie het die vorige keer toe Zuma nie kon getuig het weens sy siekte nie, nie eers ’n mediese sertifikaat gevra nie. Sy woord is daarvoor aanvaar.

Dié keer het Zuma aangebied om inligting beskikbaar te stel dat hy weens mediese redes nie beskikbaar sal wees nie.

Masuku het dit aan die kommissie gestel dat die hoof van Zuma se mediese span agter toe deure vir Zondo sal ontmoet om Zuma se mediese toestand aan hom te verduidelik.

Nadat Zondo die partye gevra het om met hom te vergader, het die sitting voortgegaan en Pretorius het gesê die aansoek deur die kommissie se regspan om Zuma met ’n dagvaarding te dwing om te getuig, word tot ’n latere stadium uitgestel.

Zondo het gesê hy het die aanbod deur Zuma aanvaar dat sy mediese span se hoof hom kom sien en die inligting oordra wat hom (Zondo) kan help om te verstaan wat die mediese redes is waarom Zuma nie in November kon getuig nie asook wat die invloed daarvan sal wees op toekomstige getuienis deur Zuma.

Zondo het ook gesê dit word aanvaar dat Zuma nie tussen 27 en 31 Januarie voor die kommissie hoef te verskyn nie weens dié mediese redes.

Masuku het hierop gesê daar is een ding wat Zondo vergeet het om te noem en dit is dat Zuma ongetwyfeld voor die kommissie wil verskyn.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Siekte  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.