Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma kry nie net ’n CD nie, maar ook ’n DVD

Oudpres. Jacob Zuma is al die land se swakste president nóg genoem. Dalk is dit omdat sing sy eintlike ding is. Hy het sopas van die land se voorste sangers uitgestof in ’n wedloop om ’n CD op te neem van liedjies wat in die politieke bevrydingstryd gesing is.

Oudpres. Jacob Zuma sing verlede jaar buite die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Ian Carbutt

Die CD is ’n projek van die stadsraad van eThekwini (Durban), ’n gebied waar Zuma altyd baie aanhangers gehad het.

’n DVD gaan ook gemaak word en die publiek sal moontlik genooi word om teen betaling die opnames vroeg in April by te woon.

Thembinkosi Ngcobo, die hoof van parke, ontspanning en kultuur van die eThekwini-metro, sê die metro sal betaal vir die projek, wat ’n paar honderdduisend rand kan bedra.

Zuma sal egter “geen sent sien” van enige opbrengs uit verkope van die CD nie. Alles sal blykbaar na die metro gaan.

‘Uiters talentvol . . .gee skares hoender­vel . . .’

Ngcobo sê hulle doen die projek omdat die munisipaliteit ’n verantwoordelikheid het om kuns en kultuur te bewaar.

“Ons het so drie jaar gelede al agtergekom dat struggle-liedjies uit die apartheidsera nêrens bewaar word of opgeneem word nie. Ons het toe ’n paar sangers geïdentifiseer wat ons gedink het dit sou kon doen.

“Nie een van hierdie sangers kon egter die kern en wese van hierdie liedjies vasvang nie. Toe merk ons op dat pres. Zuma gereeld die struggle-liedjies met geesdrif sing.”

Volgens Ngcobo is Zuma ’n “uiters talentvolle sanger wat skares maklik hoendervel gee”.

Zuma is reeds in Februarie verlede jaar ná sy uittrede genader, maar hy het eers onlangs gereageer. Toe was daar geen keer nie. Zuma het hul voortspruitende gesprek “gedomineer” en benadruk hoe belangrik die bewaring van erfenis is.

Ngcobo het gesê daar is nog geen begroting vir die Zuma-CD vasgestel nie. Die koste sal glo verhaal word uit die R25 miljoen wat sy departement jaarliks aan kultuursake kan bestee.

Kenners in die musiekbedryf sê ’n gewone ateljee-opname van tot tien liedjies kan maklik tussen R250 000 en R500 000 kos.

Ngcobo sê hulle beoog om kore te nooi om saam met Zuma op te tree. Hulle soek ander sangers en ’n plek vir die opnames.

Nicole Graham, ’n DA-raadslid in eThekwini, sê hulle gaan ’n stokkie voor hierdie opnames probeer steek. Graham is vies omdat die voorstel nog nie aan enige komitee of die metroraad voorgelê is nie.

“Hierdie album is van geen nut vir eThekwini se inwoners nie. Dit gaan oor ’n bakleiery tussen faksies binne die ANC, met Zuma se ondersteuners wat hom ’n platform wil bied ná sy ondergang,” sê Graham.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Ethekwini  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.