Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma ‘met dood gedreig’ ná Maandag se getuienis

Dit is uiters belangrik dat die betrokke wetstoepassingsagentskappe verseker dat alle doodsdreigemente teen oudpres. Jacob Zuma, sy familie en sy regsverteenwoordiger deeglik ondersoek en nie uitgevoer word nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, het Dinsdagoggend dié opdrag gegee nadat Zuma aan die begin van die tweede dag van sy hoogdramatiese getuienis voor die kommissie dit onder Zondo se aandag gebring het dat hy ná sy getuienis Maandag doodsdreigemente gekry het.

Dít kom nadat Zuma Maandag onder meer getuig het hoe hy die beweerde slagoffer is van ’n komplot wat oor drie dekades strek om van hom ontslae te raak, hoe spioene die ANC geïnfiltreer het en daar verskeie sluipmoordpogings, kompleet met buitelandse selfmoordbomaanvallers, op sy lewe was.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: Felix Dlangamandla

Aan die begin van Dinsdagoggend se verrigtinge het Zuma nóg ’n bom voor die kommissie laat bars toe hy gesê het dat sy persoonlike assistent Maandag tussen 19:00 en 20:00 deur iemand gebel is “wat gedreig het om Zuma en sy kinders dood te maak”.

“Sy het my vanoggend daaroor ingelig. Soos jy sal onthou, voorsitter, het ek baie gepraat oor hoe my lewe in gevaar is.”

Volgens Zuma is daar ook dreigemente teen sy regsverteenwoordiger, adv. Muzi Sikhakhane, gemaak.

“Ek het ’n kind verloor; die dreigement is reeds geïmplementeer. Ek sal later daaroor uitwei, maar vir nou wil ek net op rekord plaas dat my lewe en dié van my kinders in gevaar is.”

Zondo het in reaksie daarop die kommissie se regspan aangeraai om seker te maak hy kry al die beveiliging moontlik.

“Ek weet egter nie of die kommissie kan bydra nie aangesien jy reeds beveilig word.”

Ek het ’n kind verloor; die dreigement is reeds geïmplementeer. Ek sal later daaroor uitwei, maar vir nou wil ek net op rekord plaas dat my lewe en dié van my kinders in gevaar is.

Volgens Zondo is dit egter onaanvaarbaar dat iemand in die samelewing geweld óf intimidasie wil gebruik wanneer hulle ongelukkig is oor iemand omdat mense na die polisie of howe kan gaan as hulle wil kla oor mense.

“Dit is onaanvaarbaar dat daar dreigemente gemaak word. Veral as die dreigemente gemaak word aan iemand wat voor die kommissie getuig.”

Zondo het bygevoeg dat hy bly is dat Zuma nie weens die dreigement besluit het om nie verder te getuig nie.

“Dit is belangrik dat die owerhede verseker dat die dreigement behoorlik ondersoek word en nie uitgevoer word nie.”

Zondo het ook die beweerde dreigement teen Sikhakhane as onaanvaarbaar beskryf omdat hy net sy werk doen.

“Elke regsverteenwoordiger moet vry voel om sy kliënt in die kommissie te verteenwoordig.

“Ek sal die regspan vra om te help as sy regsverteenwoordigers vra vir beskerming. Ek wil nie ’n situasie hê waar iemand se regsverteenwoordiger hulle nie meer by die kommissie kom verteenwoordig weens dreigemente nie,” sê Zondo.

Meer oor:  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.