SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Politiek
Zuma: Min blou ligte in die uur voor middernag
Die konvooi van adj.pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-president, keer Maandagaand laat na die Saint George-hotel in Irene buite Pretoria terug nadat hy en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, ’n boodskap van die nasionale uitvoerende komitee van die party aan Zuma gaan oordra het dat hy moet bedank. Foto: Felix Dlangamandla

Dit was in die dramatiese uur voor middernag.

Maandagaand omstreeks 23:00 het die konvooi van adj.pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, die Saint George-hotel in Irene naby Pretoria verlaat om die boodskap aan pres. Jacob Zuma by sy ampswoning te gaan oordra dat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC sy bedanking eis.

Minder as ’n uur later was Ramaphosa en Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, terug by die hotel om terugvoer te gee aan die spesiale NUK-vergadering wat toe al tien uur lank aan die gang was.

Zuma se boodskap aan die NUK was hy weier om te bedank.

Wat opvallend was van die konvooi voertuie wat laataand Pretoria toe is om met Zuma te gaan praat, was dat dit nie met ’n groot geskal vertrek of teruggekeer het nie.

Tog was daar steeds iets van magsvertoon daaraan verbonde. Die konvooi was aansienlik groter as dié waaraan ’n mens gewoond is om saam met Ramaphosa te sien.

Omdat daar so baie voertuie was, het die vermoede bestaan dat die hele topses van die ANC die nuwe ANC-leier vergesel het.

Wat ook anders was, was die gebrek aan die misbruik van sirenes waaraan mense in Pretoria die laaste nege jaar gewoond is.

Toe die konvooi na die hotel teruggekeer het, kon jy die blou ligte in die verte uit Pretoria sien naderkom.

Pres. Jacob Zuma op 8 Februarie vanjaar by die parlement in Kaapstad. Foto: AP

Maar toe die voertuie sowat 1 km weg van die hotel was, het net een of twee polisievoertuie se blou ligte die donkernag in die Rietvleidam se rigting verhelder.

Selfs die verkeerspolisiemotor wat voor gery het, se blou lig was af.

Daar was ’n vreemde soort stilte toe die konvooi by die hek van die hotel ingedraai het.

’n Tiental televisiekameras het op twee plekke gestaan en die konvooi afgeneem.

Al wat jy gehoor het, was die gedreun van die voertuie se enjins terwyl die een voertuig ná die ander deur die hek is.

Eers meer as drie uur later – net ’n paar minute ná 03:00 – het die eerste van ’n groot getal voertuie met NUK-lede daarin die hotel verlaat.

Dit het gelyk soos in die ou dae wanneer fliekgangers in hul karre die inryteater verlaat het.

Ramaphosa se konvooi was een van die laastes. Weer teen ’n redelike spoed, maar weer sonder trompetgeskal.

Dié keer was die ANC-leier se konvooi kleiner as vier uur vroeër.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Pretoria  |  Irene  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.