Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma móét dié vrae beantwoord

Wat is die vrae wat oudpres. Jacob Zuma voor te staan sal kom voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping?

Is dit die beweerde betalings van tot R4,5 miljoen kontant per maand aan hom?

Of dalk die beweerde agteraf gesprekke en inmenging van die Guptas om ministers, uitvoerende hoofde van staatsentiteite en dié entiteite se direksies aan te stel?

Hier is sommige van die direkte aantygings wat in die 336 dae van sittings van die kommissie sedert 20 Augustus 2018 teen Zuma gemaak is.

Miljoene se kontant

Sydney Mufamadi, oudminister van veiligheid en sekuriteit asook van provinsiale en plaaslike regering, het op 25 Januarie vanjaar getuig in ’n oorhoofse ondersoek oor die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), wat destyds deur hom gelei is, is daar bewerings gemaak dat daar in die 2015-’16-boekjaar maandeliks R2,5 miljoen aan David Mahlobo, destydse minister van staatsveiligheid, in kontant gegee is wat hy glo op sy beurt aan Zuma moes gee.

In die 2016-’17-boekjaar het dié maandelikse kontantbetaling glo gestyg tot R4,5 miljoen wat aan Zuma gegee moes word.

Dit is sowat R54 miljoen se belastinggeld wat bedoel was vir staatsveiligheid.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het op 29 Januarie 2019 getuig hy is bewus van maandelikse betalings van R300 000 wat aan Zuma se vertroueling, Dudu Myeni, oorhandig is in opdrag van wyle Gavin Watson, stigterslid van Bosasa. Die geld was glo bedoel vir die Jacob Zuma-stigting, waarvan Myeni die voorsitter was.

Myeni het dié bewering in haar getuienis voor die kommissie ontken.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het só getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: www.statecapture.org.za

Vreemde vergaderings

Myeni is ook die sleutelfiguur in bewerings dat daar om verskeie duistere redes met Zuma by sy huis vergader is sodat hy glo kon druk uitoefen op staatsentiteite of ministers.

Agrizzi het getuig dat hy en Watson seker gemaak het hulle bly baie naby aan Myeni om sodoende deur haar ook noue toegang tot Zuma te hê.

Ons sou hom uitgelos het indien ons niks vrae vir hom gehad het nie.

In een geval was daar ’n vergadering met Zuma in Nkandla toe Watson dit glo oorweeg het om ’n voet in die deur te kry met skaliegas-ontginning. Daar was egter beperkings in wetgewing wat Watson uit die weg wou laat ruim en ’n vergadering is by Nkandla met Zuma hieroor gehou.

“En ek dink almal weet daar is sekere veranderings aan die wetgewing gemaak,” het Agrizzi getuig.

Getuienis is ook aangehoor oor nog twee vergaderings, onderskeidelik by Zuma se destydse presidensiële ampswonings in Pretoria en Durban, op die vooraand van die grootskaalse beweerde staatskaping van Eskom. Myeni was by albei die vergaderings in Maart 2015 waar ’n ondersoek voorgestel is oor Eskom se sake. Dit het daartoe gelei dat hoë amptenare geskors kon word om plek te maak vir mense soos Brian Molefe as uitvoerende hoof, asook die daaropvolgende beweerde kaping van Eskom deur die Guptas.

Nick Linnell, wat as Myeni se “Mr Fixer” bekendgestaan het en deur haar by die Eskom-debakel betrek is, het voor die kommissie getuig sy opdrag om by Eskom in te meng het gekom van geen ander mens nie as “die president self”.

Só getuig Nhlanhla Nene voor die Zondo-kommissie. Foto: www.statecapture.org.za

Zuma en die ‘Gupta’-ministers

• Barbara Hogan, oudminister van openbare ondernemings, het op 14 November 2018 voor die kommissie getuig sy glo vas dat sy summier afgedank is omdat sy Zuma teengestaan het in sy sterk menings oor wie as uitvoerende hoofde en direksielede van openbare entiteite (insluitende Transnet) aangestel moes word.

• Fikile Mbalula, minister van vervoer, het op 22 Maart 2019 getuig dit het hom erg ontstel dat Ajay Gupta die eerste persoon was wat aan hom gesê het hy gaan die nuwe minister van sport word. Mbalula het getuig Ajay Gupta het hom gebel en gelukgewens, en dit nadat hy met Zuma gepraat het oor die probleme wat hy ondervind om die minister van polisie te wees.

“En hier kom iemand en bel my en wens my geluk as die nuwe minister van sport.” Mbalula was bekommerd hieroor en het dit aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee genoem, het hy getuig.

Mcebisi Jonas se getuienis voor die kommissie. Foto: www.statecapture.org.za

• Op 24 Augustus 2018 getuig Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies van 2014 tot 2016, voor die kommissie hoe hy na bewering deur Duduzane Zuma, Zuma se seun, verpes is met boodskappe en oproepe dat hulle moet vergader. Hy het uiteindelik ingestem, vir Duduzane ontmoet en Duduzane het gevra hulle moet elders gesels en hom gevra om saam te ry. Op dié manier het hy by die Gupta-woning in Saxonwold, Johannesburg, beland.

Dit was ook hier waar hy deur een van die Gupta-broers, vermoedelik Ajay, R600 miljoen aangebied is indien hy sou instem om die nuwe minister van finansies te word.

“Hy (Gupta) het na Duduzane gewys en gesê dat hy van hom ’n miljardêr gemaak het. Ook dat hulle nou saamwerk met mense, insluitende Lynne Brown en Brian Molefe, en as gevolg hiervan is hulle (dié wat saam met die Guptas werk) beskerm,” het Jonas getuig.

Jonas wou nie saamwerk nie en is daarna deur Zuma afgedank.

“Hy (Gupta) het na Duduzane gewys en gesê dat hy van hom ’n miljardêr gemaak het.

• Op sy beurt het Nhlanhla Nene, oudminister van finansies wat op 9 Desember 2015 deur Zuma afgedank is, getuig hoe Jonas aan hom vertel het dat Zuma beoog om hom af te dank. Daar was reeds gerugte in die media hieroor, waaraan hy hom nie gesteur het nie. Jonas se woorde het toe wel waar geword, het hy getuig.

Zondo sê daar ís vrae vir Zuma

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het op ’n mediakonferensie op 21 Desember 2020 gesê dit is belangrik vir die werk van die kommissie dat Zuma die vrae moet beantwoord wat ontstaan het ná bepaalde getuienis wat aangehoor is.

“Ons sou hom uitgelos het indien ons niks vrae vir hom gehad het nie,” het Zondo gesê.

Meer oor:  Staatskaping  |  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.