Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma moet steeds VBS-lening terugbetaal

Oudpres. Jacob Zuma is nog elke maand verplig om stiptelik op te dok vir die huisverband wat VBS Mutual Bank vir Nkandla aan hom toegestaan het.

VBS, wat vroeër vanjaar in kuratorskap geplaas en op 13 November gelikwideer is, het in 2016 ’n huisverband van R7,8 miljoen aan die toe 74-jarige Zuma toegestaan om te betaal vir die opknappingswerk by Nkandla, sy persoonlike woning in KwaZulu-Natal.

Anoosh Rooplal, wat verlede week deur die meester van die hof as VBS se likwidateur aangestel is, het Vrydag by navraag gesê VBS gaan voort om geld in te vorder wat rekeninghouers aan die bank skuld.

Die leningskontrak vir Zuma se huisverband bly geldig en afdwingbaar soos die kontrak met die bank onderteken is.

Argieffoto van die Nkandla-kompleks.

“Trouens, alle leningskontrakte – persoonlik, of vir ’n motor of huis – bly geldig en afdwingbaar en rekeninghouers word aangespoor om voort te gaan om hul maandelikse paaiemente te betaal. Dit word vereis om te voorkom dat geld van wanbetalers verhaal word,” het Rooplal gesê.

Zuma se regskoste-hoofpyn het boonop vroeër vandeesmaand vererger toe hy ’n bloutjie in die hooggeregshof in Pretoria geloop het toe dit sy aansoek om verlof tot appel teen ’n uitspraak van dié hof – dat hy self vir sy regskoste moet opdok – van die hand gewys het.

Die saak het gespruit uit Zuma se hofaansoek vir die hersiening van adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer (OB), se verslag oor staatskaping.

Die DA het vroeër geraam dat die regskoste vir Zuma se verdediging in strafregtelike en ander sake reeds R15 miljoen beloop, terwyl die EFF dié bedrag op R32 miljoen raam.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar bekend gemaak dat Zuma se regskoste belastingbetalers sedert 2006 reeds R16,8 miljoen uit die sak gejaag het.

Zuma verskyn weer op 30 November in die hof in sy jongste poging om korrupsieverwante aanklagte teen hom finaal tersyde te laat stel.

Hy staan in die hooggeregshof in Pietermaritzburg tereg op 16 aanklagte van korrupsie, geldwassery en afpersing wat spruit uit die land se multimiljoenrand-wapentransaksie in die 1990’s.

Die Sunday Times het vroeër berig dat Zuma se nuwe regspan, wat uit vier senior advokate en een junior advokaat bestaan, enigiets tussen R160 000 en R290 000 per dag kos.

Mmusi Maimane, DA-leier, het in reaksie daarop gesê dat die koste waarskynlik “miljoene rande” sal beloop wanneer Zuma se saak hervat word.

Zuma verdien ’n jaarlikse pensioen van R2,9 miljoen as die voormalige staatshoof van Suid-Afrika. Dit is gelykstaande aan die salaris wat hy verdien het toe hy in Februarie bedank het.

Die Sunday Times het ook verlede maand berig dat Zuma sy vyfslaapkamerhuis in Forest Town, Johannesburg, vir R6,5 miljoen in die mark gesit het.

Vukile Mathabela, Zuma se woordvoerder, kon nie vir kommentaar opgespoor word nie.

Meer oor:  Vbs Mutual Bank  |  Jacob Zuma  |  Huisverband  |  Nkandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.