Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma móét voor Zondo-kommissie verskyn

Oudpres. Jacob Zuma het geen ander keuse nie – hy móét voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn.

En hy is verplig om die vrae wat die kommissie aan hom stel te beantwoord. Zuma het egter die reg om nie te antwoord nie op vrae wat hy kan bewys is beswarende getuienis teen hom.

Só het die konstitusionele hof Donderdagoggend gelas. Hy moet ook die kommissie se koste vir die aansoek betaal.

Die uitspraak volg nadat die kommissie hom tot dié hof in Johannesburg gewend het om Zuma te dwing om voor hom te verskyn. Zuma het nie die aansoek teengestaan nie.

Regter Chris Jafta het in sy uitspraak namens die konstitusionele hof gesê dit is onaanvaarbaar dat Zuma die kommissie se werksaamhede frustreer, terwyl hy toe hy nog president was self die kommissie aangestel het.

“Niemand is bo die reg verhewe nie,” het Jafta gesê. Tog is die kommissie self verantwoordelik vir die posisie waarin hy hom bevind.

Die Zondo-kommissie het hom tot die konstitusionele hof gewend nadat Zuma op 19 November sonder toestemming uit ’n sitting van die kommissie gestap het. Dit was volgens die regters van die konstitusionele hof onwettig.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het daarop gelas strafregtelike klagte moet teen hom ingedien word. Die Valke ondersoek die saak.

Zuma het die lokaal verlaat nadat Zondo sy bevinding bekend gemaak het dat hy nie, soos Zuma in ’n aansoek gevra het, homself as voorsitter van die kommissie sal onttrek nie.

Niemand is bo die reg verhewe nie.

Die konstitusionele hof het die aansoek op 29 Desember virtueel aangehoor.

Adv. Muzi Sikhakhane SC, Zuma se advokaat, het voorheen gesê indien Zuma gedwing word om voor die kommissie te verskyn, sal hy sy swygreg uitoefen. Hy is aanvanklik aangesê om gereed te wees om van 18 tot 22 Januarie en van 15 tot 19 Februarie voor die kommissie te verskyn.

Die kommissie voer aan Zuma is “grondwetlik verplig” om vrae te beantwoord “oor sy beweerde versuim as president en hoof van die uitvoerende gesag om sy grondwetlike pligte na te kom”.

Opspraakwekkende getuienis oor Zuma is vandeesweek deur die kommissie aangehoor. Aantygings is onder meer gemaak dat R54 miljoen deur die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) aan Zuma betaal is.

Die kommissie het ook gehoor ’n geheime groep spioene van 48 lede wat Zuma eksklusief sou dien eerder as Suid-Afrika se belange, is gewerf om die SVA binne te dring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.