Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma ontken aandeel in Gama se aanstelling by Transnet

Oudpres. Jacob Zuma ontken ten sterkste dat hy enige aandeel gehad het in die aanstelling van Siyabonga Gama as destydse hoof van Transnet.

Oudpres. Jacob Zuma en sy regspan gesels by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Dit nadat Zuma Woensdag op die derde dag van sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder meer gepeper is met vrae oor of hy in 2009 as president by Gama se aanstelling by dié sukkelende staatsentiteit ingemeng het.

Adv. Paul Pretorius het Zuma spesifiek verwys na Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, se getuienis vroeër voor die kommissie toe sy getuig het hoe Maria Ramos destyds as groephoof van Transnet bedank het en hoe Pravin Gordhan, tans minister van openbare ondernemings, destyds as ’n gepaste kandidaat voorgestel is om haar te vervang.

Gordhan het egter sy kandidatuur ’n week later onttrek omdat hy kort daarna minister van finansies geword het.

Hogan het volgens Pretorius verder getuig dat sy verstaan het dat daar destyds ’n lys van gunsteling-kandidate was en dat Gama tweede daarop was.

Zuma het hierop gesê dat hy weet dat Gama en Gordhan albei aansoek gedoen het vir die pos voordat Gordhan hom onttrek het.

“Gama het reeds lank daar gewerk en was bekend. Diegene wat betrokke was by die proses het geweet hy sal die werk goed kan doen.”

Volgens Zuma het die kabinet dit ook bespreek.

Pretorius het dit aan Zuma gestel dat dit ook Hogan se weergawe is dat sy die vakante poste by Transnet, waarin mense dringend aangestel moes word, ’n maand ná haar aanstelling as minister met Zuma bespreek het, en dat hy toe aangedring het dat Gama aangestel moet word “omdat dit die enigste kandidaat is wat hy self verkies”.

Wat die ministers soms doen, is om na die president te kom om die aanstelling te bespreek.
Zuma

Dit nadat die Transnet-direksie vir Sipho Maseko, ’n hoogs ervare swart kandidaat, vir die pos aanbeveel het.

Zuma het ontken dat hy dit gesê het. “Hoe kan ek dit sê as iemand (Gama) ernstige aanklagte teen hom het? Ek kan nie onthou dat ek daarop aangedring het nie.

“Wat die ministers soms doen, is om na die president te kom om die aanstelling te bespreek,” het Zuma gesê.

Zuma se regsverteenwoordigers het weer Woensdag, soos Dinsdag, verskeie kere kapsie gemaak oor die manier hoe Zuma ondervra word.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het egter bevind dat daar geen fout met die ondervraging is nie en het gelas dat die verrigtinge moet voortgaan.

Zuma se langverwagte getuienis voor die kommissie kom ook nadat Popo Molefe, Transnet-voorsitter, in Mei voor die kommissie getuig het oor hoe die omvang van plundering en korrupsie by dié staatsentiteit soos ’n “gruwelvertoning” was toe hy verlede jaar as voorsitter aangestel is.

Molefe het Gama, sowel as Brian Molefe, ook ’n voormalige groephoof van Transnet en Eskom, en Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom, en ander by name genoem as die “kernrolspelers” wat Transnet tot op sy knieë gedwing het.

Zuma se getuienis voor die kommissie duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.