Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma probeer aanspreeklikheid ontduik, sê DA

Oudpres. Jacob Zuma se getuienis voor die Zondo-kommissie Maandag was niks anders as ’n poging om slagoffer te speel én om aanspreeklikheid te ontduik nie, sê die DA.

Natasha Mazzone, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings wat self die sitting bygewoon het, het Maandagaand so gesê en bygevoeg dat in plaas daarvan dat Zuma die waarheid gepraat het, hy het eerder oor “ ’n bevooroordeelde media, samesweringsteorieë (deur plaaslike en internasionale intelligensieagentskappe) en sluipmoordkomplotte wat nie een deur bewyse ondersteun kon word nie” gepraat.

Natasha Mazzone. Foto: Rapport

Mazzone sê as die beweringe waar is, moet hy onthul wie die intelligensieagentskappe is wat teen hom saamgesweer het en wie hom R20 miljoen aangebied het om destyds as adjunkpresident van die land te bedank.

“Hy het in geen stadium persoonlik verantwoordelikheid vir die staatskaping aanvaar wat onder sy presidentskap plaasgevind het nie.”

Volgens haar hou die DA vol dat die Zondo-kommissie vir ondersoek na staatskaping nie ’n verhoor van Zuma is nie omdat hy net die leiersfiguur van ’n gesofistikeerde en skadelike skema is wat deur die ANC en sy vennote gelei word.

“Die Zondo-kommissie het ’n reusetaak om staatskaping te ondersoek en het bewys dat dit baie doeltreffend is om grootskaalse korrupsie van die ANC-regering te onthul. Ons vertrou dat Zuma se rookskermvertoning van vandag nie die kommissie van stryk sal bring om sy werk te doen en die waarheid te ontbloot nie,” sê Mazzone.

Pule Mabe. Foto: Daily Sun

Intussen het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Maandag in reaksie op Zuma se getuienis gesê: “Ons moet die oudpresident ruimte gee om sy saak te stel en te praat oor kwessies soos hy dit die beste kan onthou. As die ANC genooi word om duidelikheid oor enige kwessie te gee, sal die ANC reageer.”

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het in reaksie op Zuma se getuienis Maandag op sy Twitter-blad geskryf dat Zuma “goed begin het met daardie belangrike punte van infiltrasie van die ANC deur intelligensieorganisasies”. “Veral mense wat aangestel is deur hierdie intelligensie-organisasies om binne die ANC te groei om uiteindelik oor te neem. Wie is daardie mense en het hulle die ANC oorgeneem?”

Intussen het die joernalis en uitsaaier Redi Tlhabi Maandag aan News24 gesê dat sy “ongelukkig” niks het om te sê oor Zuma se beweringe in sy getuienis dat sy glo in die buiteland aan ’n rolprent werk oor sy destydse verkragtingsaak waarin hy vrygespreek is nie.

Zuma het getuig die media is deel van die pogings om karaktermoord op hom te pleeg en dat die sogenaamde rolprent deur Tlhabi deel daarvan is.

Sy het egter op Twitter getwiet: “Julle ouens maak ’n grap? Regtig. Miskien het hy gelees dat ek oorsee gaan studeer en werk. Miskien?”

Tlhabi het wel Khwezi: The Remarkable Story of Fezekile Ntsukela Kuzwayo geskryf, wat in 2017 uitgereik is. Die boek handel oor die vrou wat Zuma destyds van verkragting aangekla het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.