Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma ‘raak aan die slaap’ toe hy nie sin kry, hoor Zondo

Oudpres. Jacob Zuma het “aan die slaap geraak” op ’n vergadering wat hy versoek het met Popo Molefe, destydse voorsitter van die Prasa-direksie, kort nadat dit duidelik geword het dat Molefe nié met hom saamstem nie.

Molefe het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig en het die getuienis bevestig van Dipuo Peters, oudminister van vervoer, dat Zuma op die betrokke vergadering in die presidensiële gastehuis aan die slaap geraak het.

“En dit het gebeur nadat ek aan die president gesê het ek gaan nie sit op ’n vergadering van ’n politieke aard en dan teruggaan en die besluit van die Prasa-direksie verander nie. Ek het gesê hy (Zuma) moet die probleme wat hy het, sélf aan die Prasa-direksie gaan stel.

Dipuo Peters, oudminister van vervoer, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek in Johannesburg. Foto: Skermgreep

“Ek dink dit was kort daarna dat hy aan die slaap geraak het.”

Volgens Molefe was dit duidelik dat die vergadering (op 20 Augustus 2015) met een doel voor oë belê is: Daar was druk dat Lucky Montana as uitvoerende hoof van Prasa heraangestel moet word nadat hy bedank het en die direksie dié bedanking aanvaar het.

Jeff Radebe, destydse minister in die presidensie, het die vergadering belê en Molefe, Peters, Radebe en Zuma was teenwoordig.

Hoewel Zuma nie direk gesê het dat Montana weer by Prasa aangestel moet word nie, was dit glo vir Molefe duidelik dat dit die tema van die vergadering is. Montana is selfs genooi om ’n voorlegging te doen op die vergadering, hoewel hy toe nie meer Prasa se hoof was nie.

Zuma het gesê Montana was uitstekend in sy werk en die Prasa-direksie moes nooit sy bedanking aanvaar het nie, volgens Molefe.

Ook Peters het op die vergadering gesê dat die Prasa-direksie nooit met haar daaroor gekonsulteer dat Montana se bedanking aanvaar sou word nie. Indien daar voor die besluit met haar daaroor gepraat is, sou dit anders hanteer verloop het, het Molefe getuig.

Peters het vroeër die week in haar getuienis gesê die vergadering het ten einde geloop toe Zuma aan die slaap geraak het. Dit was omstreeks 02:00 en Zuma was uitgeput.

Niemand het Zuma gesteur of hom probeer wakker maak nie, en volgens Peters se getuienis het hulle saggies opgestaan en dit was die einde van die vergadering.

Peters het Dinsdagoggend haar getuienis afgehandel en moes vrae beantwoord oor die aantyging dat sy, nadat Montana in Julie 2015 weg is by Prasa, die twee jaar tot Maart 2017 toe sy die minister was, gekeer het dat ’n ander uitvoerende hoof permanent aangestel word.

Adv. Vas Soni SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Peters gestel dat Molefe beweer dat sy die aanstellingsproses gekeer het.

Dit lyk na pligsversuim en dit laat ’n mens vermoed dat daar iets sinister hieraan was.

Peters het ontken dat sy ooit so iets sou doen.

Soni het dit aan haar gestel dat sy beslis nie die proses versnel het nie, waarop sy geantwoord het dat sy daaraan gewerk het.

Soni het dit in ’n stadium aan Peters gestel dat haar antwoorde veroorsaak dat hulle in sirkels gaan.

Peters het geantwoord sy sal toegee dat daar nie ’n permanente uitvoerende hoof vir Prasa aangestel is nie en dat dit ooreenstem met die tyd toe sy die minister was, sonder om die rasionaal te verskaf oor hoekom ’n aanstelling nie gemaak is nie.

Hierop het adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, gesê die rasionaal wat Peters van praat vir waarom daar in die twee jaar nie permanent iemand in die pos aangestel is nie, kan die belangrikste deel van haar getuienis wees.

Zondo het gesê wanneer hy sy verslag skryf, kan hy ernstig verwys na Peters se getuienis en dat sy die kans gehad het om te getuig en verskeie geleenthede gegee is om haar weergawe te verskaf oor hoekom ’n aanstelling nie gemaak is nie.

“Jy het die kans gehad om hieroor te getuig. Dit lyk na pligsversuim en dit laat ’n mens vermoed dat daar iets sinister hieraan was,” het Zondo gesê.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Prasa  |  Dipuo Peters  |  Popo Molefe  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.