Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zuma rig dreigement

Oudpres. Jacob Zuma het Vrydag gedreig om mense te ontmasker wat hom deur die Zondo-kommissie aan die pen wil laat ry. Hy was ná die verdaging van die kommissie in ’n veglustige bui in Parktown, Johannesburg, toe hy sy ondersteuners toegespreek het.

Oudpres. Jacob Zuma se ondersteuners sing gister liedjies in die vertrek waar die Zondo-kommissie byeenkom tydens ’n verdaging waaroor oor sy voortgesette deelname besluit is. Foto: Felix Dlangamandla

Hy het vroeër in die gebou bes gegee en gesê hy is tog bereid om verder te getuig. Hy het selfs vir adjunkhoofregter Raymond Zondo, die voorsitter, bedank omdat hy “tussenbeide getree het” tussen die twee regspanne sodat die proses kan voortgaan.

Hy het desondanks buite in die openbaar weer uitgevaar teen die kommissie en gesê dit is ingestel met hom as teiken, het eNCA berig.

Dit het “ ’n narratief geskep” wat sy “karakter afbreek”.

“Selfs die naam van hierdie kommissie wys vir jou daar is reeds aanvaar die regters is gekaap, die parlement is gekaap, die uitvoerende gesag is gekaap.”

Zuma het herhaal daar word sedert 1990 beplan om van hom ontslae te raak. Drie intelligensie-agentskappe het toe al beplan om “karaktermoord op Jacob Zuma te pleeg”.

Hulle “werk nog die heeltyd” daaraan om daardie “komplot” in werking te stel.

Hy het daarop gesinspeel ’n vroeëre poging tot sluipmoord op Chris Hani, vermoorde sekretaris-generaal van die SAKP, is bewys van sameswerings.

“Wie het Chris Hani verraai?” het hy gevra.

Oudpres. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Hy het volgens eNCA gesê hy het al vroeër, toe hy in die hooggeregshof in Durban verskyn het, kort ná sy bedanking, mense gewaarsku wat “oor hom praat”.

“Ek het toe presidensieel opgetree, want ek was president, maar as hulle goed oor my sê, sal ek sê wie hulle is.

“Sommige mense sê hierdie ou man is kwaad. Ek is nie kwaad nie. Al wat ek sê, is mense moet versigtig wees. As ek sê ek sal goed bekend maak wat hulle dink ek nie weet nie, bedoel ek dit.”

Zuma se regspan het Vrydagoggend herhaal dat hy nie bereid is om verder ondervra te word nie.

Die verrigtinge is Woensdag tot Vrydag uitgestel omdat hy toe al sy voet dwars gesit het.

Dit was egter Vrydagoggend Zondo se beurt om hom te laat geld toe hy die Zuma-span gepak het oor hul kritiek op die kommissie se hantering van hul kliënt.

Oudpres. Jacob Zuma word gister deur sy lyfwagte vergesel by die Zondo-kommissie se sitting. Foto: Felix Dlangamandla

Adv. Muzi Sikhakhane, Zuma se regsverteenwoordiger, het byvoorbeeld gesê die kommissie se span is “onbevoeg”. Hy het die woord daarna teruggetrek en gesê hy wil dit vervang met “ondoeltreffend”.

Marelize Barnard berig die regter het gesê Zuma is die geleentheid gegee om sy kant van die storie te vertel en die situasie durf nie ontstaan dat Zuma se besware die werk van die kommissie belemmer nie.

Niemand is gevra om hul eie regte of pligte prys te gee nie, het Zondo gesê.

Hy het gesê hy wil nie hê dat adv. Paul Pretorius, die getuienisleier, of die regspan van die kommissie gekritiseer word oor ’n besluit wat hulle nié geneem het nie. Hý het die besluit geneem om Zuma te laat getuig.

“Ek en ek alleen het daardie besluit geneem. Ek is die enigste mens in hierdie vertrek wat bevindings moet maak oor die ge­tuies wat hier aantygings kom maak het oor korrupsie en staatskaping.”

Hy het ook daarop gewys hy het Zuma se tyd nie Maandag beperk nie toe hy sy openingsverklaring gelewer het.

“Zuma is die kans gegee om sy sê te sê totdat hy klaar was. Hy het sy kant van die saak gestel totdat hy self gesê het hy is nou klaar. Zuma is nie onderbreek nie,” het Zondo gesê.

Die kommissie het verdaag en die twee regspanne het weer oor die dooiepunt vergader. Daar is ooreengekom Zuma sal later verder getuig. Sy regspan sal wel in kennis gestel word oor watter dele van ander getuies se getuienis hy ondervra sal word.

Dit is nog onbekend wanneer hy sal terugkeer daarvoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.