Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Zuma se dreigement vir Nzimande bedoel’

Met die woorde “hulle” moet hom nie tart nie. Hy kan dalk net uitpraat oor wat hy van “hulle” weet noudat hy nie meer president is nie, het oudpres. Jacob Zuma vermoedelik vir Blade Nzimande en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) probeer dreig.

Dit is die mening van Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

Blade Nzimande, minister van vervoer.Foto: Argief

Zuma het Vrydag sowat 10 000 ondersteuners toegespreek nadat sy saak in die hooggeregshof in Durban tot 27 Julie uitgestel is.

“Dis geen geheim dat die SAKP krities teenoor Zuma is nie. Die party is ten gunste daarvan dat die staat nie Zuma se regskoste moet betaal nie. Zuma het Blade boonop afgedank terwyl hy nog die minister van hoër onderwys was,” sê Venter.

“Ek is redelik oortuig hy het na Blade en die SAKP verwys.”

Alex Mashilo, woordvoerder van die SAKP, sê die party kan nie kommentaar lewer as die name van die minister van vervoer en die party nie pertinent genoem is nie.

Hy het na ’n paar ander sprekers verwys wat Nzimande by die naam genoem het, en sê daar is Zuma-ondersteuners wat met die hofsaak ’n platform skep vir aanvalle op Nzimande.

Venter het verwys na sy debat met Carl Niehaus, woordvoerder van die MKMVA vandeesweek op RSG, waarop Niehaus heftig gereageer het.

“Ons het vandag weer te doen gekry met daardie soort intimiderende houding wat vorendag kom wanneer iets gesê word wat nie in hul narratief is nie,” meen Venter. ’n Deel van dié intimidasietaktiek is om die hofsaak in ’n “media-frenzy” te omskep, “net soos destyds met die verkragtingsaak”.

Venter meen Zuma en sy span probeer die openbare mening beïnvloed en die regsproses intimideer.

Theo Venter.

“Hulle probeer die narratief anders inkleur. Daardeur skep hulle ’n alternatiewe werklikheid – Trump doen dit ook. As hulle dit lank genoeg doen, begin mense (die nuwe narratief) glo. Patricia de Lille was ook baie suksesvol daarmee.”

Oor die teenwoordigheid van onder meer Des van Rooyen, Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, en Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale hulpbronne, by die hofverrigtinge, sê Venter dit herinner hom aan PG du Plessis se boek Fees van die Ongenooides.

“Ek kan nog nie aan ’n naam vir daardie groep dink nie, maar hulle is almal mense met een of ander albatros om die nek.”

Venter sê die hele situasie oor Mahumapelo en die chaos in Noordwes is, benewens propaganda van Zuma, ’n aanduiding van die terugvegpoging van Zuma-gesindes teen Cyril Ramaphosa se presidentskap.

“Ramaphosa doen sy bes om sy mag uit te oefen, maar dit is asof hy nog nie ten volle in beheer is nie en versigtig is daarmee,” sê Venter.

“Onderlinge verdeeldheid in die ANC gaan ’n uitwerking hê op die ANC se vermoë om homself behoorlik vir die komende verkiesing te mobiliseer.”

Prof. Pieter Labuschagne, ’n regs- en politieke kenner van Unisa meen elke hofverskyning gaan nou ’n “geleentheid” word. “Een ding is seker: Zuma weet hoe om met tradisionele ondersteuners te werk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.